Dankie, Mamma!

Lees Psalm 147:1-11.

Hy genees die gebrokenes van hart en verbind hulle wonde (v 3).

Here, dit bly vir baie mense vreemd
dat “God” nie uiteraard
met “onbeweeglik” rym
en nie sonder meer “mag” en “krag”
as sinonieme het nie.
Dat u denke en optrede eerder
met “sag” en “teer” ooreenkom.
Soos een vir wie jy sal wil sê:
Dankie, Mamma!

Dit is natuurlik nié te sê dat U nie daadwerklik
ons lewe rangskik en ons vyande met mening pak nie!
Nee, U reken beslissend met hulle af
wat u kinders te na kom …
En dan buk U laag en tel ons op.
Stof die vuil af.
Soen die seer gesond.
Vat aan ons met sagte hande
en troos ons met woorde vol begrip.
U maak alles weer reg.

U wat die sterre maak, hul getal bereken en vir hulle
name uitdink; U het ook van my u sterretjie tussen ander
gemaak en ook aan my u Naam gegee om dit tot u eer
te laat skyn. Ten spyte daarvan dat ek nie die skitterendste
voorbeeld aan u hemeltrans is nie, straal daar tog ’n helder
glans uit my uit. Dit is U wat só maak. U wat uit niks iéts
gemaak, dit blink gevryf en sterstatus daaraan verleen het.

Daarom wil ek U eer.
U wat my elke dag met lekker kos tegemoet kom
en my op u groen weivelde laat neerlê.
Wat nooit van my ’n kragvertoning vereis
voordat U my tot u hoë gewelf toelaat nie.

Laat voor dié Heer ’n lofsang rys!
Amen.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: