Dankiesê

Lees Psalm 22:23-25.

Die nood van die hulpelose het Hy nie … gering geskat nie … (v 25).

Dit was van altyd af die roepende Godskinders se vernaamste be­geerte: dat God hulle hoor wanneer hulle Hom roep. Dat Hy hul nood ernstig opneem. Dat Hy só ernstig daaroor voel dat Hy daad­werklik ingryp.

Klaarblyklik is dit wat hier gebeur het – en daarom, sê die digter, sal hy sing. Hy sal sy triomfantelike getuienis voor almal lewer, hy sal sy lof aan God voor die hele gemeente bring. Want God het gehoor; Hy het nie gedink dit is niks nie.

Ja, gelowiges is gou om te roep. En meestal verwag hulle ’n spoe­dige antwoord. Onmiddellik selfs.

Hulle is wel nie almal ewe flink met hul dankbetuiging nie. En dankiesê, veral as dit in die openbaar moet wees, word soms ’n tameletjie. Almal sê mos nie op dieselfde manier “halleluja!” nie. Daar is dié wat dit stilweg en verkieslik met ’n geboë hoof wil doen; daar is ander wat dit arms-in-die-lug uitjubel.

Wie doen dit reg? Dié wat hul “prys die Here!” met blye galme die wêreld instuur, of hulle wat ’n skamele dankie in ’n mineur­toonaard prewel? Wie is reg, die loof-Hom-met-die-tromme-troe­pe of die saggies-en-teer-hakkelaars?

Wie is reg? God is reg, in alles wat Hy doen. In sy oë wat ons raaksien en in sy ore wat ons hoor. In die verhoring van ons gebede en in die tydsberekening van sy ingrype. Hy is altyd gereed om ons lof te ontvang, die jubeling én die stameling. Hy het nie ons lof nodig nie; Hy weet wel ons behoort dit te doen. Maar Hy weet ook dankiesê is nie ons sterkpunt nie.

U hoor ook my lof, Here! U weet dit kom diep uit my dankbare hart en my gesalfde siel.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: