Deur die dieptes

Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister (Hand 16:25).

Die kerk is ’n gemeenskap in lof en lyding. Dikwels is dit juis ’n gemeenskap van lof ín lyding! Sien ’n mens dit beter as in die geskiedenis van Paulus en Silas in die tronk in Filippi (Hand 16:16-34)? Hier sit die kerk in die kleine in boeie en blokke. Hulle het alle rede om alle hoop te laat vaar. Hulle rûe is oopgekloof deur die gesel. Om hulle is dit donker en bedompig en eensaam – ’n koue, klam kerker.

Maar wat doen hulle? “Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister” (Hand 16:25).

As ek in Silas se skoene was, het Paulus sekerlik ’n solo gesing. Maar daar in Filippi het hulle saamgesing. Hulle stemme smelt saam, word een in hulle lof aan God. Die ander gevangenes het so iets nog nooit gehoor nie. In plaas van ’n gejammer hoor hulle ’n gejubel! Die lof van Paulus en Silas kring uit, dit raak die medegevangenes en later selfs die geharde tronkbewaarder (16:27-34).

Baie van ons meen dat ons eers moet wag totdat omstandighede reg is voordat ons God (kan) prys. Nee, prys God in jou krisis, nood, siekte en swaarkry. Doen dit saam met ander gelowiges in hulle moeilike omstandighede. Jy sal verstom staan oor die trefkrag daarvan.

As ek in Silas se skoene was, het Paulus sekerlik ’n solo gesing.

Here, in my nood wil ek ’n noot aanhef. Maak dit ’n simfonie. Amen.

Johan Cilliers