Deur U gekies

Lees Psalm 91:7-13.

Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan (v 11).

Ek is u uitverkorene – ’n mens
deur U gekies om bederf te word.
Die ontvanger van goeie gawes;
’n vertroueling aan wie U ruim gee,
vir wie U so onbevange oorlaai.

Ek moet dit egter aan U kom sê, goeie God:
Die ellende wat rondom my afspeel, ontstel my.
Ek kan nie anders as om dit te sien, die krete
te hoor, die wanhoop te ruik nie. Ek huil oor die seer.

En dikwels voel ek skuldig, Here, dat dit alles mý nie tref nie.
Die ongemak wat ek soms verduur, weeg hoegenaamd nie op
teen die lewe-en-dood-gevegte sommer op my voorstoep nie.
Soms kruip ek weg – nie uit vrees nie, maar uit verleentheid –
wanneer ek nie nóg ’n hartverskeurende storie wil aanhoor nie.

Dan stotter ek dit aan myself uit: Hoekom, Here?
Waarom nie ék nie? Om watter rede spaar U mý?
Wie is ek dat u engele my vergesel?
Hoe het hulle mý naam en adres in die hande gekry?
Wat het my lig genoeg gemaak dat hulle my op die hande dra?
Hoe is dit dat ek so maklik oor die klippe in my pad kom,
dat ek groot struikelblokke vreesloos uit die weg kan ruim?
Sluwe slange sonder skroom vertrap
en aan leeus my nie steur nie?

Ek het geen antwoord op die raaisel
van u oorweldigende liefde nie;
u omvattende beskerming
is ’n onpeilbare geheimenis.
’n Fenomenale geskenk
aan die onverdienstelikste
van al u kinders.

Sê my, Here: Wat wil U nou van my hê?
Wat vra U uit dank vir u genade?
Amen.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: