Dié aan wie ek my steur

Lees Psalm 141:5.

’n Regverdige kan my in liefde slaan en teregwys, maar van die goddeloses sal ek nie eens gasvryheid aanvaar nie, want my gebede is gedurig teen hulle boosheid gerig (v 5).

Here, ek sê vandag dankie vir hulle wat U
so gereeld stuur om my reg te help. Hulle
kom soos ware gesalfdes van God en hoop
vurige kole op my hoof – vir my eie beswil.

U weet hoe ek wil wegkoes en hierdie teregwysing vermy.
’n Skaamrooi erkenning van skuld voor God en medemens
is nooit ’n mooi prentjie nie. U weet trouens dat ek hewig
sal ontken dat ek skuldig is aan wat op my rekening verskyn.
Ek sal sonder meer sê dit is ’n vergissing. ’n Fout.
Die drukkersduiwel of een van dié se broers.
U weet hoe ek met hierdie verontskuldiging sal volhou
totdat die een wat deur U gestuur is
reg voor my kom staan en sê: “Jý is die man!”
En dan op my begin losbrand. En nie ophou nie.

Dit gebeur seker maar op u bevel, Here. Dit is tog net U
wat die volle waarheid oor my sondes ken. Dit is net U
wat presies weet hoe lank en hoe hewig die skrobbering
moet wees om die gewenste uitwerking te hê.
U ken u kinders tot in hul diepste wese.

Én U weet alles van my verwesenheid. Die sprakeloosheid
waarmee ek geslaan word wanneer daar met my geraas word.
’n Kind bly maar ’n kind, Here …
Daarom weet U ook wat om volgende te verwag –
(in geen spesifieke volgorde nie): trane, stilstuipe,
jammer-vir-myself, skoorvoetende verskonings.

Goddank kom daar, onvermydelik, die vaderlike omhelsing;
’n intieme fluistering vol troos.
’n Uiteindelike tot rus kom op die moederskoot.

En ’n nuwe begin. ’n Nuwe dag.
Ek dank U daarvoor, Here.
En ek dank U opnuut vir hulle
– die gehoorsames deur God gestuur –
wat my tot hier toe kon help.
Amen.

Barend Vos