Die arme herders

Lees Jeremia 23:1-6.

Julle het my skape uitmekaargejaag … hulle nie opgepas nie, en daarom … (v 2).

Herders het dit nie maklik nie. Bloot die feit dat skape ’n oppasser nodig het, wys dat hulle … wel, skape is. Geneig tot rondloop, wegloop. Afhanklik vir alles – behoorlike weiding, water op die regte tyd, beskerming teen al wat pestilensie is.

Die herder kry dit ook op ’n ander plek hotagter. Sien, hy is mos nie die skape se eienaar nie. Hy moet aan die baas rapporteer. Hy moet verduidelik as daar fout gekom het, as een byvoorbeeld weggeraak het. En wee die herder as die skape se baas agterkom hy het hulle verwaarloos.

Die mense sê jy besluit nie om ’n herder te word nie; jy word as ’n herder gebore. Dit is in jou bloed, hierdie herderskap. Jy wy jou lewe daaraan. Jy weet maar te goed dat die eise van alle kante af hoog is, dat rekenskap van jou gevra word.

Maar soggens staan jy op, neem jou stok en jou staf en lei jou trop tot by die groen weivelde en die water waar daar vrede is. Wanneer die nag kom, slaap jy met jou een oog oop en die wapens gereed.

Herders raak nogal verknog aan die troppie wat hulle moet op­pas, en hulle verwonder hulle gereeld daaroor dat die eienaar hulle met dié werk vertrou. Want almal weet dat hy, die baas, hartstogtelik lief is vir sy skape. Dat hy self verantwoordelikheid vir hul welstand aanvaar. Hy kan dit nie verdra dat sy skape onder ’n vertroueling se versuim moet ly nie.

Daarom oordeel hy so skerp oor ’n herder as dié droogmaak. Dan maak hy ’n ander plan …

U, Here, is my Herder. En U vertrou my met u troppie. Ag, Here, leer my hoe om te maak!

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: