Die brood wat lewe gee

“Ek is die brood wat lewe gee. Julle voorouers het in die woestyn manna geëet en tog gesterwe. Maar hier is die brood wat uit die hemel kom sodat ’n mens daarvan kan eet en nie sterwe nie. Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe” (Johannes 6:48-51).

Ons ouers en grootouers het dikwels gebid: “Voed ons met die Brood van die ewige lewe, want ons leef nie van brood alleen nie” (Deut 8). As gelowiges in Christus het ons die Brood wat lewe gee, ontmoet en God voed ons hierdie Brood van die lewe.

Die “brood” in die Ons Vader-gebed is dan ook baie meer as die eetbare brood vir elke dag. Die Nuwe Testament gebruik die brood-beeld op so ’n manier dat dit moeilik is om dit los te maak van Jesus, die Brood wat lewe gee, en van die nagmaal wat ons aan hierdie Brood herinner.

JC Ryle herinner ons dat ons gedurig moet nadink oor die grootste gawe van almal – ons verlossing deur God se genade. Ek dink nie ons doen dit genoeg nie. Ons verwonder ons nie meer daaroor nie. Ryle skryf: “Hy het ons vanuit die duisternis na sy wonderlike lig gebring deur ons nederig te maak en ons van ons swakheid, skuld en dwaasheid bewus te maak en ons van ons afgode te stroop. Hy het ons geplaas waar ons nou is en ons gegee wat ons het.”

Paulus skryf dat elkeen wat aan Christus behoort met dankbaarheid vervul moet wees. “Aangesien julle dan Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle in verbondenheid met Hom lewe, in Hom gewortel en op Hom gebou, vas in die geloof soos julle geleer is, en met dankbaarheid vervul” (Kol 2:6-7).

Miskien is ons gebrek aan dankbaarheid die gevolg van ons gebrek aan gemeenskap met die Een wat ons verlos het? Wat beteken brood op die tafel en water in ons krane sonder die Brood wat lewe gee en die lewende Water in ons binneste? Waarvoor is ons dan dankbaar?

“Seën ons, Vader, wanneer ons nou eet en laat ons u Naam nooit vergeet … Voed so ook ons siele met die brood van die ewige lewe.”

Eet en God het alles met mekaar te doen. En eet en dankbaarheid is onskeibaar. Onthou dit wanneer jy weer die Ons Vader en jou tafelgebed bid.

Dankie, Here, dat U nie net sorg vir ons daaglikse brood om ons liggame te versterk nie, maar dat U self die Brood is wat lewe gee, wat ons verlos het en wat ons geestelik voed. Ek is jammer, Here, dat ek soms hierdie geskenk as vanselfsprekend aanvaar. Ek wil my hele lewe in dankbaarheid teenoor U leef. Amen.