Die buitengewone God

Lees Psalm 147:12-14.

Loof die Here, Jerusalem, prys jou God, Sion! (v 12).

Is dit nie elke gewone mens se begeerte nie – om in vrede en vei­ligheid te lewe, om geseën en gevoed te word? En as dít dan alles God se werk is – loof en prys Hom!

Die probleem is net dat min van ons tevrede is om gewoon te wees en bloot gewone dinge te ontvang. Daarom eis ons buiten­gewoon baie van God en van mekaar. Ons vereis waarborge en onwankelbare sekerhede. Ons verwag ruim seëninge. Ons bid vir oorvloed, niks minder nie.

Ons vra meer as wat ons ooit kan gebruik. Ons is jaloers op ons naaste, veral as ons sien – of bloot vermoed – dat hulle meer as ons het. Ons gun ander mense, juis ook buitestanders en vreemde­linge, so min moontlik. En gee hulle omtrent niks.

Nee, ons is nie die Here se tevrede kinders nie. Inteendeel, ons word meermale gesien en gehoor en beskryf as dikmond, swaarmoedig, immerneulend. Ons is geen advertensie vir God se koninkryk nie.

Intussen gaan Hy ongestoord voort om ons te beskerm en te bewaar, te voed en te seën. Hy is nie afhanklik van ons instem­ming, tevredenheid of selfs ons blote dankbaarheid nie. Hy is God, en ons Vader.

Net soms, as ons dit oor ons ontevrede hart kan kry, kan ons ons sy teleurstelling verbeel. Oor die bedorwe brokkies vir wie Hy soveel moeite doen. Wat eenvoudig nie leer om asseblief en dankie te sê nie. Wat so sukkel om groot te word.

O Here, God en Vader, ek is jammer oor my kinderagtigheid. Laat my grootword tot u eer!

– Barend Vos