Die ewigheid in my hart

Lees Psalm 90:1-10.

Voordat die berge gebore is, voordat U die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God! (v 2).

Here, ons is só effentjies –
en tog sien U ons raak.
Ons leef só suutjies –
en tog hoor U ons.
Sleepvoetend skuifel ons voort;
U hou ons regop.
Bietjies-bietjies waag ons;
U beloon ons op groot skaal.

Ons kyk stip deur ’n mikroskoop, teken alles aan,
en beskou ons as ingelig.
Ons tuur deur ’n teleskoop, bereken die bo-aardse,
en spog oor ons vooruitstrewendheid.
Ons tel in tiene en dink ons is slim.

U, daarenteen, dra ’n vreemde horlosie.
U maak ander soort sommetjies.
U kyk verder én dieper.
U is God en nie ’n mens nie.

Wanneer ons stip kyk en iets nuuts raaksien,
pas dit ons om ’n oomblik ons oë te sluit en te dink:
Hoe groot is U!

En as ons in die verte tuur en ’n nuwe ster vermoed,
behoort ons na onsself te kyk en mooi te vra:
Nader, my God, by U!

Want hierdie allervreemdste waarheid is die evangelie:
U buk af – en tel ons op.
U reik uit – en vat ons raak.
U trek by ons in
en maak sewentig, tagtig jaar lank
van ons u blyplek.
Só is U byderhand in ons klein benoudheid.
U vriendelikheid maak ons lewe vol;
u vrolikheid maak ons tyd ’n fees.
Só dra ek die ewigheid in my hart.
Amen.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: