Die Here hoor

Lees Psalm 116:1-9.

Hy het na my geluister toe ek Hom aangeroep het (v 2).

Te midde van al die geleerde uitsprake oor God en sy gebod en al die slimmighede wat dese en gene oor Hom verkondig, is daar maar een enkelvoudige boodskap wat sy kinders wil hoor. En hulle sal waarskynlik nooit genoeg daarvan kry nie. Dít: Die Here hoor my as ek roep.

Die talle Bybelverse wat oor hierdie verwagting handel, is dik onderstreep en voos gelees. Predikers sal goed vaar as hulle dié versekering gereeld laat opklink. Hulle het ook nie ’n verskei­denheid maniere nodig om dit te verkondig nie. Die behoefte is eenvoudig: Hoor die Here as ek Hom aanroep? Die antwoord is ’n ondubbelsinnige ja.

Daar is wel nog ’n kwessie: die bidder se motief. Hy, die Here God wat die harte deurgrond (Rom 8:27), weet wat agter ons gebede lê, al is dit hoe goed verskuil. Daarom moet ons nie veront­waardig wees as sake waaroor ons so vurig gebid het, nie uitwerk soos ons dit wou hê nie. Julle kry nie wat julle bid nie, sê Jakobus, omdat julle dit waarvoor julle so plegtig vra, wil misbruik (Jak 4:3). Die Hartekenner weet dit.

Hierdie bedenklike houding is ver van Psalm 116 se bidder verwyder. Hý ken net nood, doodsvrees, benoudheid. Sy gebed was bloot ’n magtelose kreet: Here, help!

Daarom sy onverdunde lof aan die Here. Nee, hy is nie ewe skielik toegegooi met allerlei seëninge nie. En, nee, sy status in ander mense se oë is nie eensklaps herstel nie.

Dit is ook nie waarvoor hy gebid het nie. Hy het bloot gevra: Help my! En God het gehoor. Halleluja!

Dit is ook my troos, Here. En ’n les wat ek moet leer, Kenner van my hart.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: