Lees Kolossense 4:7-17.
Gee jou aandag aan die taak wat jy in diens van die Here aanvaar het (v 17).
Hier het ons Paulus se afsluitingswoorde in sy brief aan die gemeente in Kolosse. Eintlik is dit bloot ’n klomp reëlings wat hy vanuit die tronk deurgee. En, soos in ’n tipiese brief, ’n groetesêery aan dese en gene, van homself en van ’n klompie mense wat naby hom is.
Opvallend vir die latere leser is die klomp name wat hier ingeryg word – bekendes (Lukas die dokter, Markus, Barnabas) en minder bekendes (onder andere Tigikus en Aristargos en Argippus). Uiteindelik word dit ’n dubbele hand vol mense oor wie en met wie Paulus hier intiem in sy slotopmerkings praat. Vir ’n buitestander voel dit dalk ’n bietjie soos afluister.
As ons tog maar net goed luister en hoor hoe die kerk destyds gelyk het. En tog altyd behoort te lyk. ’n Versameling mense, bekend én minder bekend; leiersfigure (Tigikus – v 7) én voorbidders (Epafras – v 12). Almal wat weet dat hulle ’n werkie in die koninkryk het, al is dit bloot om jou huis vir die samekomste beskikbaar te stel (Nimfa – v 15) of om bereid te wees om gestuur te word (Onesimus – v 9).
Ingeligte Bybellesers sal ook minstens een wegloopslaaf uitken, asook iemand wat sy medegelowiges ’n keer liederlik in die steek gelaat het. ’n Bontspul dié, niks minder nie.
Niks minder nie as Christus se kerk. Só lyk dit dus van altyd af: Hulle is mense wat op die een of ander manier geleer het dat hulle aan mekaar behoort, van mekaar afhanklik is, mekaar se onderdak en mekaar se gebede nodig het. En dankie tog vir minstens één dokter tussen hulle!
Here, en ek ken hulle as my susters en my broers. Hoe goed is U nie vir ons nie!
Barend Vos