Die klip wat afgekeur is

Lees Psalm 118:22-26.

Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword (v 22).

Here, U kies anders as wat mense kies.
Ons keur met ons oë.
Ons verlaat ons op hoorsê.
Ons moet éérs ons vooroordele te bowe kom.
Ons stel kamma hoë standaarde …
Ons wil tot die laaste druppel bloed hê;
ons goedkeuring is nie goedkoop nie.
Ons het streng, strak reëls –
en bepaal só mense se lot.
Ons is spyt as dit te laat is,
sê “jammer!” as die bus verby is.
Staar verlangend na die rooi agterligte;
weet dat ons dit gemis het;
kan net hoop en bid dat hy weer verbykom.
Dat ons dán gereed sal wees.

U, daarenteen, maak nie foute nie;
U hoef nooit spyt te wees nie.
U kies nie u kinders nadat hulle eers
aan bepaalde voorwaardes moes
voldoen of ’n toets geslaag het nie.
U standaarde word deur deernis begrens.
U kinders bly nie in benoude boksies nie.
U dryf niemand in ’n hoek nie;
U meet en pas nie.

Here, U kies anders as wat mense kies.
U maatstawwe het tot gevolg dat ek en kandidate
soos ek die paal haal ten spyte van ’n haglike
geskiedenis en gevolglik ’n ellendige druippunt.

Ag, en dit was van altyd af so!
sê dié met ’n oog vir wonderwerke.
Graag vertel hulle dan van die een
wat misgekyk en gering geag is,
wat tot in die grond verneder is:
Hy het mos die groot koning geword, vertel hulle;
juis hý was die bringer van God se Naam!
Amen.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: