Die mense praat oor U

Lees Psalm 145:1-13.

Geslag na geslag prys wat U doen en vertel van u magtige dade (v 4).

Here, U wat alles hoor, U sal weet
hoe die mense oor U praat. Wat hulle
alles kwytraak en hoe hulle eenvoudig
álles van U weet. U wil en werke, u hart
lê vir hulle oop en bloot. En vir dié wat
minder ingelig is, word haarfyn beskryf
hoe U dink en doen en beplan en oordeel
en bloeddorstig straf. En veral presies wié
in die buitenste duisternis gewerp sal word.

Wat kan ek oor U sê? Ek weet so min.
En hoe ouer ek word, hoe onsekerder
word ek. Hoe skrapser is my brokkies
gewaande kennis. Dikwels bly ek stom
en verleë voor die Godkenners staan
en knik maar my kop waar ek reken dit
gepas is en vermoed bloot u grootheid.

Ek het niks meer nie as ’n handvol stories,
Here; ’n klompie verhale oor wat ek dink
God-ingrype in my lewe was. En as iemand
my aanpor, sal ek dit oorweeg om ander
mense se anekdotes oor húl eensame
priesterlewe of woestynbelewenisse oor
te vertel. Maar net daar eindig my woorde.

Daar is dalk tog nog iets wat ek kan doen –
hoewel ek nie heeltemal genoeg weet nie
en te min onthou en maar soms sal la-la-la:
Ja, Here, ek sal sing.
Lof het nie altyd ’n slim teks nie
en vir sommige is die woorde dom
en clichéagtig en beslis herhalend.
Maar by my kom die wysie – ’n klassieke melodie –
uit ’n dankbare hart. En op vrolike marsmaat:

“Praat ek mense-, eng’letale, maar dis nie uit liefde nie,
is my woorde hol simbole – klanke sonder melodie.”
Amen.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: