Die mense sê …

Lees Markus 6:1-6.

“Is hy dan nie ’n timmerman, ’n seun van Maria … nie?” … Die mense wou niks van Hom weet nie (v 3).

Die mense wil niks van hul eie weet nie. Die mense is agterdogtig oor iemand wat uit hul omgewing kom en wat buitengewone dinge in hul sinagoge kom sê. Hulle sê: Hy is dan so gewoon soos ons – waar kom hy aan al die dinge? Wie gee hom die reg om anders as ons te wees?

Wat is dit tog met die mense? Is hulle jaloers? Is hulle bang? Is dit die besef van eie verydeling? Eensklaps té bewus dat hulle dit self nie juis verder as Nasaret kon bring nie?

Nou kom hy, hierdie houtwerker, hierdie seun van Maria, en hý kom sê en doen allerlei opspraakwekkende dinge …

Jesus is heel filosofies oor wat die mense sê. Dit is maar soos dit met profete gaan, sê Hy. Daar word oral met respek na hulle geluister, óral, behalwe in hul plek van herkoms. Dáár sê die mense: Nee wat.

Markus sê: Jesus was nietemin verbyster oor die ongeloof waar­mee Hy begroet is, en daarom het Hy bloot gedoen wat sy hand daar gevind het om te doen. Toe vat Hy maar weer die pad na die buurdorpe en gaan preek daar. Daar sal die mense hopelik minder te sê hê en eerder na die vreemde profeet luister.

Natanael, een van Jesus se dissipels, het indertyd uitgeroep: “Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?” (Joh 1:46). Die antwoord het gou geblyk – en hóé!

Maar die stompsinnigheid van Nasaret se mense-met-die-sê het tot gevolg gehad dat hulle dié goedheid, die heel beste wat ooit uit hul geledere sou kom, sou verbeur.

Ag, Here Jesus, ook ek maak graag praatjies oor U. Help my om U te hoor!

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: