Die oop hemel

Lees Markus 1:9-11.

Net toe Hy uit die water kom, het Hy die hemel sien oopskeur en die Gees soos ’n duif na Hom toe sien neerdaal. Daar was ook ’n stem uit die hemel … (v 10-11).

Daar is baie maniere waarop die verskillende Bybelskrywers die liefdesdade van die Skepper aan sy skepsels beskrywe. Die profeet Hosea sê byvoorbeeld dat God die Een is wat afbuk om vir sy kinders te sorg; priester Samuel het geweet dat die Here tot in die mens se hart sien; koning Dawid het gepleit dat die Here vir hom ’n rein hart en ’n nuwe gees sal gee.

In die Nuwe Testament is Paulus lief vir die woord “versoen” in al sy verbuigings, en Johannes skryf herhaaldelik oor God se tere liefde vir sy kinders.

Maar waar is daar ’n skouspelagtiger bewys van God se om­vattende omhelsing van sy kinders as die toneel by sy geliefde Seun se doop? Die duif! Daardie stem …

O, en die oop hemel. Dít is seker die veelseggendste metafoor denkbaar wanneer die verhouding tussen Skepper en skepsels be­skrywe word. En dit was van altyd af so: Jakob die vlugteling het dit reeds gesien (Gen 28:11-17); die radelose Jesaja het dit van die Here afgebid (Jes 64:1-2); die weifelende Petrus sou dit later self beleef, boonop met die stem daarby (Hand 10:11-16).

Maar Jesus van Nasaret sou in alle opsigte die verpersoonliking van God se oop hemel wees. In Jesus sou die skepsels hul Skepper sien. Deur Jesus, het hulle later geleer, sou hulle na hul hemelse Vader toe gaan.

Here Jesus, U is ons oop hemel. U maak ons die erfgename van ’n nuwe dimensie.

Barend Vos