Die prys

Lees Matteus 10:34-42.

“Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het” (v 40).

Die eise van dissipelskap is hoog. Dit vind Jesus se voornemende navolgers baie gou uit. Dit behels kruisdra, die dikwelse prysgee van wat vir jou lief en dierbaar is. Dit vereis meestal ’n totale herskikking van jou voorkeure.

Vir baie is dié prys te hoog – en wie kan hulle daarvoor kwalik neem? Ons kleef tog almal aan dit wat ons as “sekuriteit” beskou, of ten minste aan wat aan ons bekend is, en beslis aan wat gelief is. Al weet ons dat dit ons eintlik diskwalifiseer om dissipels te wees.

Jesusbewonderaars? Ja. Navolgers? Nie noodwendig nie.

Is die belofte van ’n beloning dan nie aanloklik genoeg nie? Die wete dat jy as Jesusnavolger in hierdie lewe regstreeks in God se diens is. Dat jy die Naam dra van die Een wat jou agter Hom laat aanloop en jou ook genoeg vertrou dat Hy jou uitstuur.

Nee, dit verleen jou nie oral en in alle situasies bykomende status nie; dit bied jou wel in alle omstandighede die troos en beskerming van Hom wie se Naam jy dra en in wie se Naam jy by jou bestemming opdaag.

Hoe naby is dit nie aan die sin van die lewe nie! Dié dat jy ’n groter Idee navolg en verkondig. Dat jy lewenslank ’n navolger én ’n gestuurde is? Is dit nie opwindend om doelbewus te leef in ’n omgewing wat veel groter as jou klein hoekie is nie?

As dit net nie was vir die prys wat jy daarvoor moes betaal nie …

Here, help my om elke dag reg te kies. Daar is maar een pad en een bestemming. Die alternatiewe is te erg om te oorweeg.

Barend Vos