Die ryk dwaas

Toe sê Hy [Jesus] vir hulle: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ’n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.” Toe vertel Hy hulle ’n gelykenis: “’n Ryk man se grond het goed gedra. Hy het toe by homself gedink: wat moet ek doen? Ek het nie plek waar ek my oes kan opgaar nie. Toe besluit hy: dit sal ek doen: Ek sal my skure afbreek en groter bou. Daarin sal ek al my graan en my ander goed opgaar. Dan sal ek vir myself sê: ‘Mens, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare. Hou op met werk: eet, drink en leef lekker.’ Maar God het vir hom gesê: ‘Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het?’ So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is by God nie” (Lukas 12:15-21).

In 1 Timoteus 6:17 hoor ons die waarskuwing: “Dié wat in hierdie wêreld ryk is, moet jy waarsku om nie hooghartig te wees nie. Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God.” Paulus sê rykdom, geld en besittings het die potensiaal om ons te verlei om ons vertroue eerder daarop te stel as op God. Dit is presies waarteen Jesus in Lukas 12:15 waarsku: Pasop vir elke vorm van gierigheid, want jou lewe is nie afhanklik van die oorvloed van jou besittings nie.

Telkens in die Lukasevangelie sien ons hoe rykdom en besittings in die pad van mense gestaan het om Jesus Christus te volg (Luk 18:18-25; 14:25-33; 14:18-19). In Lukas 18:18-25 lees ons dat die ryk jongman voldoen aan al die vereistes wat die wet bepaal. Wanneer die Here vir hom sê: “Gaan verkoop jou goed en kom hier en volg My,” stap hy hartseer weg.

Wanneer Jesus in Lukas 14:33 oor dissipelskap praat, sê Hy nie een van ons kan sy dissipel wees as ons nie bereid is om van al ons besittings afstand te doen nie. Ons kan die Here nie volg as ons besittings belangriker is as Hy nie. Ook Lukas 14:18-19 maak dit duidelik dat mense se besittings, die grond en die osse wat hulle gekoop het, hulle die fees van die Messias laat misloop.

Die heel hartseerste gelykenis is sekerlik die een van die ryk dwaas. Kyk na sy prioriteite. Dié man het by homself gedink (sonder om God se raad te vra): Wat moet ek doen? Ek het nie genoeg plek om my oes op te gaar nie. Toe besluit hy: Ek sal my skure afbreek en groter bou sodat ek al my graan kan opgaar. Wat sê hierdie ryk dwaas? Wat ek het, is myne. Ek besluit hoe ek dit gebruik. Hy gee geen erkenning aan die God wat hom ryk gemaak en sy koring laat groei het nie. Sy nuwe skure sou sy “probleem” oplos.

Dit lyk na goeie beplanning. Dié man maak voorsiening vir die maer jare. Maar is dit regtig so? Die Ou Testament help ons om beter te verstaan wat hier gebeur: Mense vervloek iemand wat weier om koring te verkoop (Spr 11:26), want hulle gaar hulle koring op totdat al die ander koring op is. En dan verkoop hulle hulle koring teen ’n onbetaalbaar hoë prys. Só besteel hulle die armes.

Tereg het Moeder Teresa gesê: “Wanneer ’n arm mens van honger doodgaan, is dit nie omdat God nie vir daardie persoon gesorg het nie. Dit is omdat ons nie instrumente in die hande van God was om vir die arme ’n stukkie brood te gee nie.”

Liewe Vader, gee my ’n hart vol omgee vir my medemens sodat my eerste prioriteit nie sal wees om myself te verryk en na “my brood” te soek nie, maar dat ek sal bid en my sal beywer vir “óns daaglikse brood”. Ek wil my talente, gawes en goeie beplanning gebruik in diens van U en u koninkryk, en nie om groter skure vir myself te bou nie. Amen.