Home » Maart » Die smekende vader

Die smekende vader

“Sy pa gaan toe uit en praat mooi met hom” (Luk 15:28).

Die vyfde beeld in die gelykenis oor God se vergewensgesindheid (Luk 15:11-32) is dié van die smekende vader. In die vaderhuis is daar nou feesvreugde; die vrolike gelag van die vrolike vader weerklink. Maar buite staan die oudste seun met sy koue, kil hart. Binne is daar die warm vreugde van vergifnis; buite staan die oudste broer brom-brom, verbitter, stug en stuurs. Binne is daar musiek en sang; buite staan die oudste seun, wys vinger en vra: “Wat beteken dié feestelikheid?”

Hierdie seun het wel in die vaderhuis gebly. Hy was altyd by die vader en alles wat die vader s’n was, was syne. Tog was hy verlore! Hy gun nie sy jongste broer die vader se onverdiende liefde nie. Die “goeie” oudste broer is net so verlore soos die “slegte” jongste seun wat weggetrek het na die ver en vreemde land en uiteindelik in die varkhok tussen die peule beland het.

Die vader in die gelykenis is ’n beeld van ons hemelse Vader. Het jy opgemerk wat ons Vader volgens hierdie gelykenis doen? Toe die jongste broer uit die ver land terugkom, hardloop die pa uit en omhels en soen hom. En toe die oudste broer buite bly staan, gaan die pa weer uit, sekerlik ook haastig, en smeek by sy seun om in te kom. Ons Vader hardloop na die jongste én die oudste broer, na die “goeies” en die “slegtes”, en Hy soen en Hy smeek! Want so is Hy.

Kom in! Dis koud buite. Moenie dat die Vader jou so moet smeek nie. Hy wil jou soen en omhels.

Die Vader hardloop na albei kante toe. Hy soen en Hy smeek.

Vader, bewaar my daarvan dat ek korrek, maar koud is. Maak my regverdig en warmhartig. Amen.

Johan Cilliers