Die spelerige God

Lees Psalm 104:24-34, 35b.

Daar is die see … Daar vaar die skepe, en daar is die Leviatan. U het hom gemaak om mee te speel (v 25-26).

Hier is ’n uitbundige lied met verbysterende woordprentjies oor die Skepper en sy skepping. Kyk dan: “U wat op die wolke ry, op die vleuels van die wind, U wat die winde u boodskappers maak, die weerligte u dienaars …” (Ps 104:3b-4). Ons lees vandag die laaste gedeelte. Die see is die fokus.

Hier word die Bybelleser in dieselfde bruisende trant as aan die begin deur die wysheid van God se skepping getroos (v 24), deur die Gewer van die lewensasem se sorg vir sy afhanklikes (v 27-30). Die lofroep aan die einde (“Mag daar aan die roem van die Here geen einde wees nie!” – v 31a), word só aangevul: “Mag die werk van die Here Hom vreugde verskaf …” (v 31b).

Vreugde in sy Goddelike handewerk. Die trotse, laggende God …

Nie altyd hoe ’n mens oor Hom dink nie, nè?

O, en dan is daar die Leviatan (v 26), die seemonster wat in ander Ou-Testamentiese geskrifte as boos en gevrees uitgebeeld word, as die toonbeeld van bedreigings wat van buite kom (Jes 27:1). Maar in hierdie dansende psalm is dié ou wildewragtag niks meer nie as God se speelding!

Die seemonster wat skeepskapteins laat bewe, waarmee kinders banggemaak word, wat die paaiboelie in talle onheilsverhale is, is vir die Skepper bloot soos ’n geleerde dolfyn wat op sy bevel deur ’n hoepel spring. Soos ’n mak hond vir wie ’n tennisbal gegooi word om te gaan haal en by sy baas se voete te kom neersit.

Die Baas sê: Moenie bang wees nie, my kinders! Kyk, daardie ou dingetjie kan nie maak wat hy wil nie.

U skrik nie vir hierdie lewe se monsters nie, Here. Daarom bly ek teenaan U.

Barend Vos