Home » Maart » Die taal van skuldverbondenheid

Die taal van skuldverbondenheid

“En vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree” (Matt 6:12).

Hierdie vyfde bede van die Ons Vader-gebed, soos trouens al die bedes van hierdie gebed, kan nie net deur enkelinge gebid word nie. Daarvoor is die “ons” wat vier keer herhaal word net te opvallend. Met hierdie gebed bring ons ons oortredings na God toe, maar ook meer: Ons bring die oortredings van ons gesinne, die oortredings van ons kerke, van ons volke, van ons regerings en uiteindelik van die ganse mensdom na God toe.

Wanneer ons sê “ons”, is dit soos ’n klippie wat in die dam gegooi word: Die rimpelings kring al verder uit. “Vergeef ons ons oortredings” is in sekere sin ’n universele gebed. In hierdie gebed leer ons die taal van skuldverbondenheid aan. In Dostojefski se roman Die broers Karamazov sê die sterwende seun Markell aan sy moeder: “Ons elkeen is voor almal in alles skuldig, en ek, ja, ek, meer as almal.” Met hierdie taal van “korporatiewe” skuld word die bose kringloop van wedersydse verwyte en beskuldiging deurbreek. Met hierdie taal bely ons: Ons is die outeurs van ons eie skuld. Hiermee erken ons: Daar is ’n net van skuld wat oor ons almal sprei …

Steek vandag die hand in eie boesem. Hou op om te reken dat net die ander die skuld dra, of dit nou jou huweliksmaat, kollega, politieke opponent of vyand is. Jy dra ook skuld. Want jy is ’n mens wat moet bely: “En vergeef ons …”

“Ons elkeen is voor almal in alles skuldig, en ek, ja, ek, meer as almal.”

Here, ek wil vandag ophou vinger wys, en eerder hand in eie boesem steek. Vergewe ons … Amen.

Johan Cilliers