Die tempel is oop

Lees Openbaring 11:16-19.

Toe het God se tempel, wat in die hemel is, oopgegaan (v 19).

Hier is dit nou: een van die Openbaringboek se beskrywings van die finale oordeel. Dit wat die meeste gevrees word en die maklikste geïgnoreer word.

Gevrees, ja, omdat dit so onheilspellend klink. Sommer met die eerste lees daarvan en lank voordat ’n onheilsprediker op ’n seepkis of ’n rekenaar se sleutelbord klim en die hel op almal laat neertuimel, wil-wil dit jou oorweldig. Wil jy liefs, soos gewoonlik, vlugtig daaroorheen lees. Dan vinnig blaai na iets meer verstaanbaar en minder bedreigend.

En maklik geïgnoreer, ja, juis vanweë genoemde helpredikers en verdoemingsprofete wat tog so gretig na verse soos hierdie gryp om hul eie, vreemde, verstaan van God hieraan te koppel. Al wat die skreeuers hiermee regkry, is om nóg ’n sukkelaar finaal by die rand van moed opgee af te stoot. Om skade aan te rig, dikwels onomkeerbaar, by weerlose pelgrims wat in ’n onvriendelike wêreld ernstig na God se wil soek.

Dit alles, terwyl die teks self iets heel anders sê. Hoor dan: “Ons dank U … dat U nou u groot mag gebruik en as koning heers” (v 17). En veral: “Die eindtyd het aangebreek … aan u dienaars … word hulle loon gegee …” (v 18).

Troos, nie waar nie? Grondige, welkome troos vir mense wat die mag van die Koning nou nodiger het as ooit. Verontregte, versmade en vernielde dienaars wat uiteindelik aantree vir die genadeloon wat hul Vredevors hulle van altyd af belowe het.

Neem hulle dus nie kwalik nie, al julle smalende doemprofete, dat hierdie dienaars juis nou hul oë vir altyd van julle sal afwend. Dat hulle sal opkyk en juig: Kyk, die Koning is daar!

Op daardie dag, Here, sal ook ek tot rus kom in U. Ek kan nie wag nie …

Barend Vos