Die ware lig

Lees Johannes 1:1-9.

Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie (v 5).

Johannes se Evangelie begin nie met ’n Kersverhaal nie, maar met ’n gedig. Oor lig. Oftewel die Lig.

Hy sê die Lig was van die begin af daar, alles het deur Hom tot stand gekom. En: “In Hom was daar lewe …” (v 4).

Vir ons is dit nie nuus nie. Ons weet dit van die begin af, want hierdie Lewe het vir ons die lewe gegee. ’n Lewe in sy lig wat nie uitgedoof kan word nie, hoe hard die duisternis ook al probeer.

En probéér dit nie hard om alles te verswelg nie! Soms kom dit met een fel hou wat die lewe in chaos dompel. Maar dikwels bekruip die duisternis, planmatig en slinks, hulle wat in die lig lewe. Sodat hulle nie hierdie stelselmatige verdonkering sommer agterkom nie.

Lank, soms jare lank, werk hierdie bose strategie. Mense van die lig merk nie op dat hulle langsamerhand in hierdie grynslag­gende swart gat ingesuig word nie. Hulle vergeet gou hoe helder die Lig eintlik is. Hulle raak noodlottig gewoond aan die aanslui­pende skemer.

Maar hierdie lig, sê Johannes, hierdie Lig, laat Hom nie uitdoof nie. Nee, dit is juis wanneer die helse donkerte alle pretensies oor­boord gooi en verwoed begin dreig en blaas en soek om te verslind, dat die Lig soos ’n helder môrester opkom. En die dag die nag be­slissend breek.

U, Woord by God, U bly die lig op my pad en die lamp vir my voet. U skyn in my en oor my en altyd voor my uit. Halleluja!

– Barend Vos