Die wilde voëls en die veldlelies

“Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng? En wat bekommer julle julle oor klere? Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie. Maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges?” (Matteus 6:26-30).

Jannie du Preez skryf dat die hele Ons Vader-gebed in werklikheid ’n koninkryksgebed is, nie net die een bede nie.

Waar God se Naam geheilig word, kom sy koninkryk. Waar God se wil geskied, kom sy koninkryk. Waar ons bid vir brood, kom sy koninkryk. Waar mense God vir brood dank, kom sy koninkryk. Waar God ons sonde vergewe, kom sy koninkryk. Waar mense mekaar vergewe, kom sy koninkryk. Waar die Bose weerstaan ​​en mense van die Bose bevry word, kom sy koninkryk.

Ons bid dat God se koninkryk sal groei – dat die kerk sal groei. Maar ons bid nie net nie; ons doen ook. Deur elke dag God se wil te doen en deur betrokke te raak, maak ons God se koninkryk en sy geregtigheid en sy omgee al sigbaarder. Ja, dit is ’n pynlike betrokkenheid, want ons moet baie opofferings maak. Ons koninkryke moet tot niet gemaak word. God se wil en koninkryk moet dit vervang. Dit is egter ook ’n salige betrokkenheid, sê Hans Bouma, want ons neem deel aan ’n projek van globale belang.

Hierdie gebed vra dus totale oorgawe en radikale gehoorsaamheid aan God se plan. Wat sal met ons gebeur as ons so radikaal gehoorsaam is? Dié wat op God gefokus is, word getroos. Jesus neem ons na die voëls in die lug en die blomme van die veld. Die voëls saai, oes of maak nie in skure bymekaar nie (mans het dit tradisioneel gedoen). Die blomme swoeg nie en maak nie klere nie (tradisioneel was dit vroue se werk). Die voëls en die blomme vervul net hulle skeppingsdoel. En God sorg vir die voëls en die blomme. Hy gee om vir hulle.

Wat van ons wat hierdie gebed bid? Wat is ons doel? Ons skeppingsdoel is om ons oë gerig te hou op God, sy koninkryk, sy wil en sy geregtigheid. Wat sal met ons gebeur wanneer ons ons oorgee aan God se wil en koninkryk, aan ons skeppingsdoel? God sal voorsien (Matt 6:33). God sal individue en kerke met die regte fokus en toewyding seën, want hulle volg sy agenda. Daarom moet ons bid dat die fokus, waardes en ingesteldheid van God se koninkryk en wil deur Jesus Christus ook ons lewe sal vul.

Here, dankie dat U die goeie Vader is wat selfs vir voëls en die blomme sorg. Leer my om op U te vertrou, Here, en nie bekommerd te wees nie. Om op U en u koninkryk te fokus maak my juis sorgvry en help my om my skeppingsdoel te vervul. Amen.