Die wrewel in u hart

Lees Psalm 106:40-48.

Ter wille van hulle het Hy aan sy verbond gedink, en in sy groot liefde was Hy genadig (v 45).

Dat U toe ’n weersin in u kinders gekry het,
is sekerlik die onheilspellendste verslag
wat oor daardie woestynreis ontvang is.
Dit is moeilik om te glo, Here, dat U wat hulle
destyds uitgekies het, U wat soveel in daardie
verhouding belê het, op ’n dag u humeur verloor
en hulle uiteindelik opgegee en afgeskryf het –
met wrewel in u hart.

Kan U dan só kwaad word, Here?
Kwaad genoeg om dié aan wie U
so swaar grootgemaak het, te los
dat hulle maar self verder opsnork?
Is U nie die God van groot vergifnis nie?
Is dit dan nie u werk om te vergewe nie?

Dan wonder ek hoeveel werk U nog aan my
moet doen. Aan ons, u kinders, wat in ’n nuwe
woestyn rondtrek. Hoeveel weersinwekkende redes
het ons U nie deur jare heen gegee
om óns ook maar te los nie?

Tog, tóg … het U nie u handewerk
laat vaar nie. U het die verbintenis onthou wat U
vergete met u uitverkorenes aangegaan het.

Nou vra ek, oorbluf maar dankbaar:
Hoe onthou U so ver terug? En hoe vergeet U
die onlangse weersin wat ons in U gewek het?
Ek weet die godgeleerdes formuleer dit mooi,
soos dit hoort. Maar vir my, u vergifniskind,
lyk dit bloot asof U, Almagtige, eenvoudig nie
u erewoord kán verbreek nie. Dié woord:
“Ek het jou by jou naam geroep; jy is Myne.”

Ek ís u s’n, Heer! Ek is ’n draer
van die Naam vir tyd en ewigheid
in u geheue gegrif.
Amen.

Barend Vos