Dis nie ons wat mense bekeer nie

Verder het Hy gesê: “Met die koninkryk van God gaan dit só: Iemand saai die saad op die land en gaan slaap en staan op, dag na dag, en die saad ontkiem en groei – hóé weet hy self nie. Vanself bring die aarde die graan voort, eers ’n halm, dan ’n aar, dan die vol koringaar. En wanneer die graan ryp is, steek hy dadelik die sekel in, omdat die oestyd daar is” (Markus 4:26-29).

Die eerste sendeling in Korea van wie ons weet, was Robert J Thomas. Hy het nie ’n omvangryke sendingprogram gehad nie. Trouens, hy het gesterf nog voordat hy begin het. In 1866 was hy op die Amerikaanse skip General Sherman om in Korea vir die Here te gaan werk. Die skip het op ’n sandbank beland en hulle is deur Koreaanse soldate aangeval. Net voordat Thomas doodgemaak is, het hy ’n Bybel na sy aanvallers uitgehou en uitgeroep: “Jesus, Jesus!” Dit is al.

Sowat 25 jaar later het iemand ’n gastehuis in daardie omgewing besoek. Teen die mure was vreemde muurpapier. Die eienaar het verduidelik dat hy van die Koreaanse skrif gehou het in ’n dik boek wat hy iewers gekry het. Toe gebruik hy dit as muurpapier, soos dit in daardie tyd die gebruik was. Dit was toe al die tyd bladsye uit Thomas se Bybel wat hy vir sy moordenaars gegee het en wat as geloofsteks vir vele gaste gedien het. Wie weet hoeveel mense het God se genade teen daardie einste mure raakgelees en ontdek! Sommige navorsers reken dat 40% van Suid-Korea se inwoners vandag Christene is en dat hierdie Bybel van Thomas die eerste reuse tree in die regte rigting was.

Anders as Robert Thomas, was die prediker DL Moody wyd bekend. Een aand voor ’n optrede in Indianapolis het hy vir die bekende sanger Ira Sankey gevra om op ’n straathoek te begin sing. Spoedig het ’n groot skare om hom saamgedrom. Moody het toe met hulle oor die Here begin praat. Daar was later so baie mense dat hy hulle genooi het na die ouditorium waar hy later die aand sou optree. Kort voor die aanvang van die program het hy vir die skare mense gesê: “Now we must close, as the brethren of the convention wish to come and discuss the question: ‘How to reach the masses!’”

Die verhale van Robert Thomas en DL Moody het een gemene deler. Albei vertel iets van die ongestruktureerdheid en verrassende karakter van dissipelskap. Dit is hierdie spontane lewe wat ek self veels te lank misgeloop het. Helaas, ek het Markus 4 nie geglo wat sê die koninkryk se saad sal vanself en op onverwagte maniere opkom en groei nie. Jesus se woorde aan Petrus dat hy maar net agter Hom moet aankom en Hy sal hom ’n visser van mense maak, het by my verbygegaan. Ek het gedink ek moet sélf die visse inbring. Maar dit is nie óns wat mense bekeer nie; dit is God se werk. Ons moet net vertel.

Here, partykeer dink ek ook dat ek self die visse moet inbring en die saad moet laat groei. Help my om die verrassende en spontane karakter van u koninkryk te ontdek. Dankie dat ek U maar net moet volg en U moet toelaat om die saad te laat groei. Amen.