Dissipels moet leer ontvang

Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes. Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief (2 Kor 9:6-8).

Lindie Strydom, aanbieder van Geloof, Hoop en Liefde op kykNET en handelsmerkbestuurder van Groot FM 90.5, vertel:

Ek was lid van my gemeente se finansiële komitee. Ek sal nooit vergeet toe ons predikant ons een Saterdag Diepsloot toe geneem het nie. Die rede was tweeledig.

Die eerste rede was om konteks te gee aan ons gesprek oor geld en hoe ons klein gemeente deur die bronne wat God aan ons toevertrou het ’n verskil kan maak.

’n Mens dink en praat baie anders oor “doer ver Diepsloot-gemeente” se bydrae as jy saam met daardie mense gekuier en Jesus Christus se hoop te midde geweldige armoede beleef het.

Die ander rede vir die besoek was iets waaraan ek nog nooit voorheen blootgestel is nie: om te leer ontvang.

As bevoorregte, ryk wit jongmens het ek grootgeword met die idee dis ons verantwoordelikheid om te gee. Die bedoeling was gewoonlik goed: Ek het meer gekry; dus sal ek altyd gee. Daardie dag is ons gasvry ontvang by verskillende mense se huise – sinkhuise, rug teen rug. Huise wat netjies verdeel is in ’n kombuisie, slaapkamer en sitkamer, maar met uitgooigoed wat ek en jy nie meer gebruik nie. Ons het koffie gedrink, geroosterde grondboontjies so van die vuur af geëet en ’n stuk gaar vis by ’n winkeltjie gekoop. Ek het hoeveel keer in my sakke gesoek na ’n geldjie, maar ons is nie toegelaat om vir enigiets te betaal nie. Die akademiese les oor “hoe om te ontvang” het prakties lyf gekry namate ek ons gasheer, Eddie, en sy mense se vreugde om te kan gee beleef het.

’n Paar jaar later was ek deel van ’n uitreik na mynwerkers wat hulle werk verloor het. My hart het gebreek terwyl mense in lang rye gestaan het om hulle R200-kospakkies te ontvang. Eenkant teen die muur hurk ’n oom, amper skaam terwyl hy die inhoud van die sakkie bekyk. Ek vang sy oog terwyl hy hartseer sê: “Ja, dis makliker om te gee as om te ontvang …”

Ek het weer besluit om meer gereeld vir mense in nood die kans te gee om ook te kan gee.

Ons almal wil gee; ons almal het die begeerte om iets van onsself te kan gee. Maak nie saak hoeveel of wat ons het nie. Maar ons moet ook leer om te ontvang.

Liewe Vader, dankie dat U altyd vir my genoeg gee sodat ek oor het om ander mee te seën. Help my om ook te leer ontvang, selfs van mense wat minder as ek het. Ek weet U gebruik arm, ryk, jonk, oud – almal – om ander te seën. Amen.