Dissipelskap-stories: Dissipels doen dit anders

Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God (Miga 6:8).

Nico van der Merwe, eienaar van Eduplex, vertel:

Aan die begin van elke nuwe finansiële jaar moet ons besluit oor verhogings aan ons meer as 300 werknemers. Dit is nooit ’n maklike besluit nie, want dikwels wil vrees ons besluite oorskadu. “Wat as die nuwe jaar nie so goed is soos die vorige een nie?” Ek bid toe en vra die Here om my te help en my te wys wat ons moet doen, want Jesaja 58 spook by my. Veral vers 3 wat sê ons laat die mense wat vir ons werk nog harder werk … en vers 10 wat sê as jy wil hê die Here moet jou antwoord, moet jy jou wy aan dié wat honger ly. Die idee om ’n persoonlike gesprek met elk van ons laags besoldigde werkers te hê kom toe by my op.

“Ruth, hoeveel kos vervoer jou en hoeveel mense is van jou salaris afhanklik?”

“Ongeveer een-derde van my salaris spandeer ek aan vervoer en ek sorg vir sewe mense, Meneer,” antwoord sy.

Ek is geskok. “Wat eet julle, Ruth, behalwe pap en marog?” vra ek.

“Vleis, Meneer,” antwoord sy terwyl trane oor haar wange rol.

“Watse vleis, en hoekom huil jy?”

“Ek huil omdat niemand nog ooit genoeg vir my omgegee het om dit te vra nie. Ons eet hoender, Meneer.”

Ek voel soos ’n rot. Ruth werk al 15 jaar vir my. “Ja, ja,” sê ek ergerlik, “ons almal eet hoender, maar wat eet julle oor naweke?”

“Ons koop Vrydae ’n hoender, Meneer.”

“En die res van die naweek?” vra ek.

“Ons eet die hele naweek van die hoender, Meneer. Sondag eet ons wat oorbly met sous.”

Toe huil ek … en ek besef die Here huil saam, want Hy hoor die geroep van die werkers in die lande. Toe praat ek met Lydia, Petrus, Johanna en … en ek staan beskaamd.

Sommige se salarisse het ek meer as verdubbel, téén die advies van “raadgewers” in. En toe vat Satan ons aan. “Julle gaan bankrot speel!” Ons besluit ons gaan die Here vertrou om te voorsien. Ons kies om eerder onder te gaan deur die regte ding te doen as om sukses te bereik in die wêreld se oë, maar in die Here se oë te faal.

Dit was 11 jaar gelede. Ons maatskappy het sedertdien met meer as duisend persent gegroei. Hierdie jaar het ek die oefening herhaal en my seun as uitvoerende hoof saamgenooi. Weer het ons met trane in ons oë gesit. Weer het ons geweet wat om te doen. Weer het vrees ons laat twyfel, maar weer het die Here ons versterk om die regte ding te doen. Weer het die Here voorsien.

Só het ek geleer om na my besigheid te kyk in die lig van Miga 6:8. En as die vrees my pak, hou ek vas aan Jesus se woorde: “Waarom is julle bang, kleingelowiges?” (Matt 8:26).

Here, alle fasette van my lewe is deel van my verhouding met U. Dankie dat U aan my bekendmaak wat goed is. Help my om in al my sake liefdevol, betroubaar, regverdig en bedagsaam op te tree. En wanneer ek bang is, Here, dankie dat ek op U kan vertrou. Amen.30