Dit gaan oor familie

Deur sy dood aan die kruis het Hy ’n einde gemaak aan die vyandskap en dié twee met God versoen en tot een liggaam verenig. Toe Hy gekom het, het Hy die goeie boodskap van vrede gebring: vrede vir julle wat ver van God was, vrede ook vir dié wat naby was. Deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader. Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God (Efesiërs 2:16-19).

God is my Vader, maar nie net myne nie. Jesus leer ons bid: “Ons Vader …” Dit dui op gemeenskap. Daar is baie ander mense wat God ook “Abba” noem. Ek sit in Noord-Ierland. Jy is in Suid-Afrika, Namibië of dalk in ’n ander land. Ek noem God “Abba”. Jy noem hom “Abba”. ’n Gelowige in Noord-Korea noem God “Abba”. Dit maak ons familie. Ons is broers en susters in die familie van ons Vader in die hemel.

Om God ons Vader te noem is ’n afwysing van enige eksklusiewe siening van God. God is nie die God van wit of swart, ryk of arm, mooi of lelik, slim of dom, man of vrou nie. God is nie die God van ’n bepaalde kerk of groep nie. God is nie die God van ’n bepaalde volk nie. As Hy die God van ’n volk sou wees, sou Hy niks anders as ’n stamgod wees nie.

Nee, God is God! Daarom is hierdie eerste woorde van die Ons Vader-gebed ’n beklemtoning van die eenheid van die kerk. Paulus praat uitvoerig hieroor in Efesiërs 2:11-22. Hy benadruk dat dinge nou anders is as in die verlede. Daar was ’n tyd toe hierdie gelowiges nie aan God se gesin behoort het nie. Dit alles het verander toe God hulle uit genade gered het (Ef 2:1-13). Met hierdie woorde wou Paulus sy lesers oortuig dat hulle nou een nuwe mensheid is, deel van ’n nuwe familie. Hy skryf in Efesiërs 2:18-19: “Deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader. Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God” (klem bygevoeg). Die eenheid van hierdie gesin met hulle verskillende agtergronde word mooi beskryf in Galasiërs 3:28: “Dit maak nie saak of iemand Griek of Jood, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal een.”

Een Vader. Een gesin. Broers en susters. Dit is wat ons sê wanneer ons “Ons Vader” bid. Elkeen wat hierdie gebed op sy of haar lippe neem, sien die wêreld en vat hande met die gelowiges oor die hele wêreld heen.

Iemand het glo eenkeer vir die Switserse teoloog Karl Barth gevra of ons in die hemel ons geliefde familie sal sien. Sy antwoord was baie mooi in pas met wat hierdie gebed ons leer: “Ja, maar die ander ook!” In God se gesin, die gemeente, die kerk, die stukkie hemel op aarde, tel ons voorkeure en afkeure nie. Miskien kan die hemel vir sommige van ons ’n skrikwekkende gedagte wees as ons hierdie beginsel van Jesus se koninkryksgebed, sy gesinsgebed, nie reg verstaan nie.

Ons Vader, dankie dat U my deur u Seun deel gemaak het van u huisgesin. Dankie ook vir my baie broers en susters in hierdie huisgesin. Help my om in liefde ’n seën vir hulle te wees en die eenheid tussen ons te versterk, veral met dié van wie ek nie so baie hou nie. Amen.