Dit gaan oor intimiteit

Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde. Hy sal ons ons sonde nie bly toereken en nie vir ewig toornig bly nie. Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie, vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie, want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien. So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af. Soos ’n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien (Psalm 103:8-12).

Ek lees dat AB de Villiers in sy outobiografie seker gemaak het die titel wat eers vir Shaun Pollock gebruik is weens sy senioriteit in die Suid-Afrikaanse krieketspan, ná Pollock se uittrede op Jacques Kallis sou val. Hulle albei is “Oupa” genoem. Uiteraard was Pollock en Kallis nie regtig die span se oupas nie. Hulle het hierdie twee buitengewone krieketspelers Oupa genoem as ’n teken van respek en waardering.

Om iemand Pappa of Oupa te noem is nie sommer net ’n naam of titel nie. Dit beteken daar is ’n verhouding, en dié verhouding is een van intimiteit en liefde. “Pappa” is ook die naam wat Jesus gebruik om die Ons Vader-gebed mee te begin: Ons “Abba” wat in die hemel is …

Die Aramese woord Abba druk die intieme verhouding tussen ’n kind en sy of haar pa uit. My kinders noem my steeds Pappa, al is hulle al groot. ’n Mens raak moeilik moeg daarvan dat iemand jou so noem, want, soos “Mamma”, is “Pappa” een van die eerste woorde wat kinders sê wanneer hulle begin praat.

Vir sommige mense is titels baie belangrik. Hier op die Britse Eilande, waar ek nou hierdie stukke sit en skryf, is daar baie meer titels as in Suid-Afrika. Ons het MBE’s (Member of the British Empire), OBE’s (Officer of the British Empire), Lords, Sirs en dan ook nog al die ander wat ons in Suid-Afrika het. Maar daar is afstand in titels. Daar is afstand in “dominee”, “pastoor”, “dokter”, “doktor” en “professor”. Herman Veldkamp skryf dat hy dit soms moeilik vind om na mense se gebede te luister. Hy skryf: “Wanneer iemand bid: ‘Ewige, volsalige, barmhartige God’, dink ek: Man, hou op, jy verstaan nie wat jy sê nie. Jesus leer ons om eenvoudig ‘Vader’ te sê.”

Dís die troos van God se Vaderskap: Ons hoef nie vir Hom bang te wees nie; ons hoef nie groot name vir Hom te gebruik nie – net maar Vader.

Sommige mense voel dalk ongemaklik met hierdie woord in ’n gebed. Hulle kan voel dit wys nie genoeg respek nie. Ons noem immers ons aardse pa’s “Pappa”, nie die God van hemel en aarde nie. Ja, dit is vreemd, maar dit is ook wonderlik. Dit troos ons. Ons Vader in die hemel is ons pa, en ons mag Hom “Pappa” noem.

Dis natuurlik soms moeilik om God ons Vader te noem. Vir baie mense is dit onmoontlik. Die wêreld is immers vol slegte pa’s. Ons pa’s misluk, verlaat ons, verloor beheer oor hulleself, beskerm ons nie altyd nie en hou ons nie altyd so veilig soos pa’s moet nie, verstaan nie altyd nie en is dikwels baasspelerig. So is God nié.

Jan Overduin skryf dat ons oor God net kan stamel in kinderlike brabbeltaal. Wanneer ons God ons Vader noem, sê dit dan 1 000 maal meer as baie gebede. Dit is ten diepste ’n geloofsbelydenis. Hierin vind ons die hoogtepunt van God se liefde. Dis eenvoudig. Dis totale afhanklikheid.

Hemelse Vader, dankie dat U verkies om in familietaal aan ons geopenbaar te word. Dankie vir die voorreg om ’n intieme verhouding met U, die Skepper van die heelal, te kan hê. Maak my oë oop om in my alledaagse lewe die tekens van u liefde en barmhartigheid te kan ervaar en te deel. Amen.