Dít is dissipelskap

Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus. Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie (1 Korintiërs 15:57-58).

Toe ek gesnap het dat die evangelie regtig vir gewone mense bedoel is, het ek gekies om die res van my lewe hier op aarde anders te laat verloop. Vandag kies ek om elke dag saam met Jesus te loop asof ek dit vir die heel eerste keer doen. Ek weier om gewoond te raak aan my kosbare verhouding met die Here, en met familie, vriende, die kerk en mense in nood. Ek streef daarna dat elke gebed, elke Bybelreis, elke aanbiddingsgeleentheid, elke gesprek oor die Here ’n ontdekkingsreis sal wees. Ek streef daarna om ’n ware dissipel van Jesus te wees.

En hoe lyk die lewe van ’n ware dissipel van Jesus? Die beste samevatting hiervan kom van Theo Geyser, ek deel dit graag met jou vandag. Maak dit jou eie in jou lewe as dissipel van Jesus.

  • Dissipels laat toe dat ander hulle blinde kolle aan die lig bring.
  • Dissipels weet wie hulle vandag liefgehad het.
  • Dissipels leef met die regte vrae, nie met die regte antwoorde nie.
  • Dissipels ken stilte voor woorde.
  • Dissipels weet die koninkryk van God is binne-in hulle.
  • Dissipels weet hoe om elke dag dood te gaan.
  • Dissipels is gedurig besig om balke te saag sodat die splinters hulle nie pla nie.
  • Dissipels kies transformasie bo informasie.
  • Dissipels offer nie net gebede aan God nie, maar wórd die gebede.
  • Dissipels weet dat elke goeie somer deur ’n goeie winter moontlik gemaak word.
  • Dissipels leef vanuit die oorvloed van eenvoud.

Here Jesus, dankie dat ek u dissipel kan wees. Maak my dapper om soos ’n kind met verwondering te leef en oorvloedig te wees in my diens aan U, sodat ander ook u liefde en genade deur my kan ervaar. Dankie dat ek waagmoedig en voluit kan leef omdat ek weet U is altyd by my. Amen.