Doelbewus

Lees Psalm 107:10-20.

Maar in hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp, en Hy het hulle bevry van hulle ellende (v 13, 19).

Daar is dié wat hul bestemming misloop, Here.
Hulle wat U miskyk, verby U soek na méér.
Of U doodgewoon ignoreer.

“Ons doen alles doelbewus,” verdedig hulle graag.

Maar ná verloop van baie jare, is hulle bloot
van hul ontberings bewus. Die doel waarna
hulle naarstig gestreef het, is nooit bereik
nie – en hulle kon nooit die kloutjie by die oor
bring nie; ook dié waarheid het hulle bly ontwyk.

Vasgevang, geboei,
bly sit hulle nou daar.
’n Gordyn is voor hul hoop getrek.
En steeds in die duister wonder hulle
oor presies wat tog so skeefgeloop het.
Hoe hulle die doel dan nié bereik het nie.

Nooit oorweeg hulle die moontlikheid
dat dit die noodwendige gevolg
van hul eie, doelbewuste, keuse is nie.

Dit alles weet ek maar te goed – en U tog ook –
omdat ek daardie kettings op ’n kort afstand hoor ratel.
Ag, Here, daar is min dinge wat ’n mens so hard aarde
toe bring soos selfinsig se plettervat. En as daar niemand is
om jou orent te help nie, bly jy net daar lê.

Hoe hard, Here, moet ’n mens roep wat so plat lê? Hoe ver
trek jou stem as jy genadeloos gelyk met die grond gemaak is?
Reguit gevra, Here: Luister U hoegenaamd na iemand wat lê?

Dié antwoord bly my ontwyk; filosowe se teorieë is kwalik
verstaanbaar en teologiese sekerhede toenemend ongeloofbaar.
Daarom, hoor my as ek onbevange maar doodbang na U roep:
Help my, Here! Tel my op!
Haal my asseblief net hier uit!
Amen.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: