Doodseker …

Lees Psalm 119:113-120.

Laat my vas staan soos U beloof het, dat ek kan lewe, dat ek nie teleurgestel sal wees in my verwagting nie (v 116).

Here, U weet mos ek tel onder die twyfelaars;
hulle wat dikwels op twee gedagtes hink.
Ek is een van dié wie se “ja” net soms amen is.
En die besliste “nee!” ’n latere miskien, tóg …
Onsekerheid speel baas oor my; “dalk” en “straks”
is sleutelwoorde in al my sekerste uitsprake.
Om leiding te neem is nie my sterkpunt nie. Askies!
het ’n kenmerk geword en onbeslis ’n lewenshouding.

Nee, ek is van niks meer doodseker nie.
My kop pas op geen blok nie.
In ’n wêreld vol vaste oortuigings is ek erg hinderlik –
ongemaklike, vermybare geselskap.

Daar word gefluister dat niemand aan my kan vat kry nie
omdat hulle nie bo alle twyfel kan vasstel waar ek staan nie.
Min weet hulle, Here, dat ek self nie weet waar – en óf – ek staan nie.
Waarvoor ek toe geval het en voor wie ek regtig kniel nie.
En of die durende onsekerheid nie maar blote weghardloop is nie.

Is dit die tydgees, Here? Of van watter gees het ek
die slagoffer – en deesdae woordvoerder – geword?
Ek weet nie.

Ek weet regtig net dat ek dit nie regkry
om twyfelaars te verag nie. Ek is dan
een van “hulle” …

Nou kom vra ek maar, as ek mag: Is “heelhartig”
u enigste vereiste? Is “voorlopig” nét verdoemenswaardig
en helfte-helfte uiteraard vervloek? Is u dreigemente
teen goddeloses ook teen my gerig – die ware twyfelaar
wat gedurig aan ’t onderhandel is?

Ten minste bewoon U die adres vir my vrae.
U Naam kom die duidelikste uit as ek stotter.
U woord bevat steeds die enigste moontlikheid
vir vrede in my hart en rus vir my siel.
Amen.

Barend Vos