Droë kennis, of lewensveranderende ontmoetings?

Toe hy op reis naby Damaskus kom, het daar skielik ’n lig uit die hemel op hom gestraal. Hy het op die grond neergeval en ’n stem vir hom hoor sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” “Wie is U, Here?” vra hy toe. “Ek is Jesus,” antwoord Hy. “Dit is vir My wat jy vervolg. Maar staan op en gaan na die stad toe. Daar sal vir jou gesê word wat jy moet doen” (Hand 9:3-6).

Hulle sê ’n mens onthou waar jy was toe daar iets met bekende mense gebeur het, soos prinses Diana se dood, of toe onvergeetlike dinge in die wêreld gebeur het, soos 9/11 of die Wêreldbeker-skepskop van Joel Stransky in 1995. Toe dink ek, min mense het my al ooit vertel van soortgelyke gewaarwordings ten opsigte van hulle geloof … behalwe vir ’n klein groepie navolgers van Jesus wat die wêreld andersom laat draai. Soos Paulus, weet hulle presies waar hulle was toe Jesus trompop in hulle vasgeloop het!

Niemand onthou waar hulle was toe nog droë kennis in die kerk uitgedeel is nie. Want ons vóél die lewe, eerder as dat ons dit verstaan. Vir te lank het ek self geglo die regte kennis sou ander beweeg om in die Here te glo en aan Hom toegewy te leef. Helaas, dit het nie.

Tans is die meeste kennis ooit in die kerk beskikbaar, massas goeie navorsing oor enigiets denkbaar, van kerklike belydenisse tot geestelike vorming. Nogtans laat dit nie die kerk vinnig groei nie. Dit maak nie saak hoeveel preke, Bybelstudies of kursusse ons in plek kry nie – nog kennis “bereik” nie die mense buite die geloofsveld op beduidende maniere nie. Ook maak dit nie die nuwe generasies opgewonde om deel te word van hierdie kennisgerigte, krimpende skare nie. Skaars het hulle die kennis deur katkisasie ingeneem, of hulle laat spaander!

Niemand onthou waar hulle was die dag toe nog inligting in die kerk uitgedeel is nie. Maar gelowiges onthou wel waar hulle was toe hulle in die teenwoordigheid gekom het van mense wat hulle geloof uitleef. Só sê Cliff van Vuuren onlangs vir my. Al is hy blind, is hy ’n passievolle leraar wat mense van vroeg tot laat dien. Hy vertel van iemand wat ná sy dogter se dood deur ’n swaar tyd gegaan het. In plaas van bitterheid, het hierdie man liefde en veiligheid gevind in ’n omgeegroep waar gelowiges mekaar dien. Cliff vertel dat hy self groot lesse by hierdie groepie geleer het, soos dat status nie belangrik is nie; dat jou identiteit nie in posisies en titels lê nie; dat onvoorwaardelike liefde en aanvaarding vir mekaar al is wat regtig saak maak, en dat gasvryheid en liefde teenoor vreemdelinge gróót neergeskryf word in die Here se boeke.

Lewenslesse soos hierdie laat jou onthou waar jy was toe jy dit geleer het.

Here, ek wil graag ’n passievoller dienaar van U wees. Raak my hele lewe aan. Help my om my geloof só uit te leef dat ander vir U daardeur kan ervaar. Amen.