Dromertjie

Lees Psalm 105:12-22.

Toe Hy hongersnood oor die land gebring het en al hulle kos laat opraak het, het Hy iemand voor hulle uit gestuur: Josef is as slaaf verkoop (v 16-17).

Josef was dalk my eerste Kinderbybelheld, Here.
Die jong man met die bont jas; die dromer.
Sy pa se witbroodjie.

Heimlik was hiérdie seuntjie,
baksteenhoogte, borselkop, ek,
maar hý …

Ek kon my ure lank sy drome verbeel – die gerwe wat buig;
die son en maan en sterre se ontsag. Ek kon my sy broers
se ontsteltenis indink, my tog só vir hul afgunstigheid opruk.
Oplaas het ek my in die diep put bevind en my lot gelate afgewag:
Die handelaars sou my koop en in Egipte verkwansel.
O Here, en was ek jammer vir myself!

Tydens daardie einste donker waak het ek tranerig
na my pa verlang wat eers laatmiddag van die werk
sou kom en uitroep: “My kind! En hoe was jou dag?”
Soms het ek dit oorweeg om hom die waarheid te vertel:
van ’n kamerjas, ’n wegkruipplek; van dagdrome
oor belangrikheid; van heldwees in my eie verhaal.

Dan, heelaand, sou ek hom onderlangs dophou.
Prentjies in my kop maak, dink:
Sal hy my mis as ek in ’n ver land woon? Sal hy by sy werk
trots rondvertel van sy kind se prestasies in Anderland?
En, veral, sou ek suutjies wonder: Hoe lief is hy regtig vir my?
Amper soveel soos die Here?

Die antwoord op dié kinderlike vrae sou mos eers
later kom, Here: Met die volgende hanekraai,
as ek slaperig wonder hoe het ek laasnag in die bed
beland. Was die krapperige nagsoen nóg ’n droom?

Of baie later, in ’n vergeelde fotoalbum.
As ek na sy sterke arms kyk,
en sy sagte hande.
En weet.
Amen.

Barend Vos