Lees Psalm 107:1-9.
Party was verdwaal in die woestyn, in ’n barre wêreld, en kon die pad na ’n bewoonde stad nie kry nie (v 4).
Here, vir my is die aangrypende in die woestynverhale
die manier waarop U vir die trekkers ’n tuiste was.
Hulle het die skrapse sekerhede waaraan hulle gewoond was,
verlaat en op reis gegaan na ’n blyplek wat hulle beloof is.
Veertig jaar lank het hulle nie eintlik herwaarts of derwaarts
geweet nie. Maar U was vir hulle dáár, ’n onwrikbare vaste punt.
Ek wonder of hulle toe ooit uitgevind het – of aan hulleself
erken het – dat hul bestemming die hele tyd by hulle was.
Ek twyfel of hulle dit gesnap het dat U hul beloofde land was.
Dat die Een wat manna en kwartels en oorvloedige fonteine
voorsien het, in sy nabyheid hul melk en heuning was.
Hoe sou hulle dit ooit geweet het, Here?
Al het U dit vir hulle met ’n lepel ingegee?
Want ook ons word deur lange jare heen melkkossies
gevoer – meestal goed versoet – en ons herken steeds nie
die hand wat ons voed nie. Inteendeel: Hoe dikwels hap
ons nie juis na daardie einste hand wat so gee en gee nie.
Onvergenoeg.
Ons wil altyd nóg hê …
Here, die tragedie van ons menigvuldige dwalinge
is dat ons nooit sal erken hoe hopeloos ons
reeds verdwaal het nie. Ons doen ons doelgerig
voor, trefseker op pad na ’n bestemming.
En ons wy ons lewe aan die voorbereiding vir die aankoms …
En deurentyd is U by ons,
bo ons,
voor ons, mét ons, agter ons,
onder ons.
Ons word sonder onderbreking omsluit; omhels deur die leidende,
versorgende, koesterende hande van Hom wat Bestemming heet.
Tuiskoms.
Ewige woning.
Amen.
Barend Vos