Eensgesind

Lees 1 Korintiërs 1:3-17.

Is Christus dan in stukke verdeel? (v 13).

Nou ja, verdeeldheid in die kerk is dus so oud soos die kerk. Hoekom verras dit niemand nie?

Omdat ons weet: Ons, die gelowiges, is die kerk. Ons weet eerstehands hoe verdeeldheid in die kerk lyk. In ons eie klein kring.

Dit is maar die ding met mense, klaarblyklik van altyd af: soveel siele, soveel sinne. Boonop probeer ons lewenslank om ander na ons standpunt oor te haal; self is ons nie juis vatbaar vir oortuiging nie. Wanneer dit boonop by die navolging van leiers kom, is die kerk en die kerk se mense soos tipiese landsburgers behep met die kleinlike politiek van hul tyd. Daarom sal die Korintiërs breëbors loop en verkondig: “Ek is ’n Paulusman!” Of: “Ons is Apollosmense.” ’n Ander sal uitroep: “Nee, Sefas is ons leier!” Daar is ook dié wat uit geestelike hoogtes op hierdie lotjie sal afkyk en beterweterig verklaar: “Ék volg Christus, nét vir Hom.”

So teken ons punte teen mekaar aan. Hou ons telling van ons geestelike voorspoed en vergelyk dit gereeld met dié wat dieselfde Bybel as ons lees en dieselfde God as ons aanbid. En so maak ons teenstanders van hulle wat familie is. Vind ons die een of ander perverse genot daarin om mekaar te uitoorlê. Om wenners! wenners! wenners! te wees, ten koste van hulle wat ons in ons vroom oomblikke “broers en susters” noem.

Op dié manier, raas ’n hartseer Paulus, kap ons Christus se lyf in stukke. Kruisig ons Hom opnuut op die wreedste moontlike manier. En dit kamma in sy Naam.

Wat ’n prys betaal Christus se kerk nie vir sy lede se selfbeheptheid nie. Deur die eeue, tot vandag.

Verlos u kerk, Here, elke dag van egoïsme. En U moet maar by my begin.

Barend Vos