Ek is jammer

Lees Job 38:34–39:2.

“Kan jy …?” (38:34).

Die res van die Goddelike vraesessie in hierdie hoofstuk bestaan uit dié soort vrae, waarmee Job behoorlik op sy plek gesit word. “Kan jy …?” word ’n herhalende refrein.

En, soos maar met hierdie soort vrae, word geen antwoord ver­wag nie. Daar ís trouens geen antwoord anders as “ek is jammer, Here” nie.

Ek is jammer oor my selfvoldane eise. Ek is jammer oor my voortvarende aannames. Ek is jammer dat ek U beskuldig het. Ek is jammer dat ek my so vrymoedig uitgespreek het oor dinge waarvan ek niks weet nie.

Ek is jammer oor my vriende. Ek is jammer dat ek my deur hulle laat mislei het toe hulle beterweterige kommentaar op U en u doen en late gelewer het. Ek is jammer dat ek myself so jammer gekry het dat ek nie u eer beskerm het toe hulle dit aangetas het nie. Ek is jammer dat ek so bitter min van U weet dat ek nie eens met ’n antwoord vorendag kon kom toe hulle gelaster het nie.

Nou is ek jammer dat U soveel tyd aan my moet afstaan om my my plek in u skepping te laat begryp. Ek is jammer dat U my soos ’n kind op ’n aanskouingsles moet neem om my vergissings aan my uit te wys. Ek is jammer dat my begrip so beperk en my insig so bejammerenswaardig is dat ek sukkel om selfs ’n greintjie van u almag na behore te begryp.

Ek is jammer, Here, dat u eindelose liefde my steeds verras, en ek is jammer dat u genadige goedheid my ná al die jare steeds sprakeloos laat.

Vergewe my, liewe Here! Vergewe my.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: