Ek roep en roep

Lees Psalm 119:145-152.

Handel volgens u liefde, Here, luister tot na my. Laat u bepalings geld, hou my in die lewe (v 149).

Here, soos die slangbesweerders
en die walvisroepers roep ek na U.
Dat U asseblief aan my sal verskyn
waar U ook al vandaan sal kom;
daar waar ek U so ru onderbreek het,
in die dieptes van misterie of die oseaan.
Hoor my as ek mooi vra dat U
my oppervlakkigheid sal breek;
dat U my geroep ernstig opneem.
Want, Here, as daar één is
wat die bodemloosheid van my
swaarkry ken, is dit U.

U weet tog hoe min ek slaap; hoe ek die ure aftel.
Hoe u woord my troos tydens hierdie ellendige waak.
Niks anders nie as u bepalings hou my by my verstand.
Ek oorleef, nag ná nag, vanweë u stem by my.
Want wakkerbly kan sieldodend wees, Here,
maar U maak daarvan ’n onverwagte oase;
’n onwaarskynlike fontein.

Nou het ek ’n alibi om te eniger tyd van die dag
of nag na U te roep. Om U op te roep om my te kom
bystaan in my hulpeloosheid. Om U in te laat in my
radeloosheid. Dat U my opnuut onderrig in u trou
en in die troosvolle waarheid van u beskerming.

Bowendien is ek mos bang vir die donker
geluide wat net boosdoeners kan maak –
of spoke uit my verlede.
U het reeds met laasgenoemdes afgereken,
ek weet, maar ek is deesdae van nuuts af bevrees
vir die konkelwerk van onvoorspelbare slinkses.

Uit genade is U die toonbeeld van vastigheid.
En ek is bloot u verwarde ou nagkindjie,
wat ook in die dag my dieper dors by U wil les.
Nóg vis, nóg vlees.
Amen.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: