Ek sal nie val nie

In u hande is ek veilig (Ps 23:4).

Wanneer ek die kans het om in Kaapstad se strate rond te loop, verlustig ek my in die kaleidoskoop van kleure en geure. Wat ’n verskeidenheid van mense! Daar is dié wat hulle ware ywerig en welsprekend van die hand sit, en dié wat ná wik en weeg en kibbel koop. Daar is dié wat drentel soos ek, en dié wat preek! Gewoonlik staan hulle by die voetstuk van ’n monument of standbeeld en verkondig hulle boodskap met entoesiasme – of die omstanders nou luister of nie. Ek bewonder altyd hulle moed.

Ek onthou hoe ek eendag so ’n prediker as deel van sy boodskap hoor uitroep het (ek kan nie meer die presiese konteks onthou nie): “Hoor hier, mense. Die Here gaan julle almal drop!” Ek het by myself gedink: My broer, ek is bly ek kan van jou verskil hieroor.

Want God drop mense nie sommer nie!

Ons val wel weg in die graf, ons drop tot in die dood, maar God is getrou. Hy laat nie die werk van sy hande vaar nie; Hy tel hierdie liggame van ons uit die stof op. Hy laat ons nooit uit sy hande, deur sy vingers val nie. Daarom hoef ons nie bang te wees nie, selfs al gaan ons deur donker dieptes, “want U is by my. In u hande is ek veilig” (Ps 23:4).

Here, hou my vas. Nou en vir altyd. Amen.

Johan Cilliers