“Ek stuur jou”

Lees Esegiël 2:1-5.

“Mens, Ek stuur jou na die Israeliete toe, ’n opstandige nasie” (v 3).

Esegiël sou nie later kon kla dat hy die slagoffer van ’n wanvoor­stelling was nie. Nee, nee. Daarvoor praat die stem wat hy hoor gans te reguit.

Hy moet hoor dat hy na moedswillige en hardkoppige mense gestuur word. Weerbarstiges. Die kans dat hulle na hom sal luister, is nie goed nie. Maar jy moet gaan, sê die stem, jy moet gaan sê wat Ek vir hulle te sê het.

Ag, as die Here tog eerder ’n engel gestuur het, of ’n legioen engele. Hoe meer stemme, hoe beter word hulle dalk gehoor. Of wat van die Gees, die Een wat vir Esegiël laat regop kom het? Kan Hy, wat soos wind en vuur woed, nie maar die boodskapper wees nie? Hoekom tog die armsalige profeet stuur, die een wat reeds so skrikkerig is?

Dit is, helaas, soos die Here werk, en dit was nog altyd so. Sy lys boodskapdraers het nog nooit vir inspirerende leesstof gesorg nie en die galery waar hul foto’s hang, is hoeka maar lendelam.

En hul opdragte, ai … Altyd, áltyd, na moeilike mense toe, gewoonteklaers, nooit-tevredenes. Altyd mense met ’n agenda, met ’n onvervuldheid in hulleself waarvoor hulle die boodskapper verantwoordelik hou bloot omdat hy die boodskapper is.

Die gestuurdes het net een troos, nee, twéé: Dat dit nie hul boodskap is nie; hulle kom dra dit net oor. En dat hulle in die Naam van ’n ander Een by die ontvanger opdaag.

Hulle dra daardie Naam met hulle saam. En daardie Naam dra húlle, oral waar hulle gaan.

Here, wanneer U my stuur, kom asseblief saam! Help my, want ek is bang.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: