Ek wag …

Lees Psalm 130.

Ek wag op die Here meer as wat die wagte op die môre wag (v 6).

Uit dieptes gans verlore, van redding ver vandaan … Dit is hoe latere lesers hier in ons omgewing dié kort psalm leer ken het. Gesing het en liefgekry het.

Dit is troostend om te weet daar is nóg mense soos ek. Nóg dieptes soos dié waarin ek my bevind. Nóg wanhoop soos myne.

Sou hy, dié digter, ook gesukkel het om te wag? wonder ek. Want wag is nie my beste woord nie. Veral nie as ek in die moeilik­heid is nie. Dan wil ek daaruit kom, en gou ook. Dan moet iemand dadelik kom help.

Soos hierdie roeper, glo ek dat die Here nie éérs voorwaardes sal stel voordat Hy die reddingstou sal laat sak nie. Dat Hy nie my slegte posisie daar in die dieptes sal gebruik om eers ’n verskoning of ’n belydenis uit my te kry voordat Hy aanbied om te help nie. Dat sy vergifnis volkome is. Dat sy genade ook hier vir my genoeg sal wees.

Maar, vra ek my dikwels af, wat is genadig aan wag?

Behalwe dalk dat jy in die put die kans kry om alleen te wees. Om daar, in die afwesigheid van ander wat jou paai, eerlik te wees met jouself. Jou ’n klompie dinge af te vra, byvoorbeeld: Hoe het ek hier beland? Wie se skuld is my donker dieptes?

En dalk iets soos: Wat kos dit God om te vergewe? Wat is die prys vir dié reddingstou?

Straks ook: Wat is die eerste ding wat ek gaan doen nadat die Here my hier uitgehaal het?

Ek weet U sien my, Here. Ek weet u tyd is die regte tyd, ook vir my. Ek sal wag.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: