Lees Jesaja 5:8-23.
Omdat my volk My nie wil ken nie, sal hulle in ballingskap weggevoer word. Volk en leiers … (v 13).
Die Here is hewig ontsteld oor die misdade van sy uitverkore volk, en daarom roep Hy in die woorde van sy profeet ’n reeks skerp oordele oor hulle uit. Vyf keer agtereenvolgens roep Hy: Ellende wag vir julle!
Bybellesers kan wonder of daardie spulletjie dan nou weer begin het om afgode te aanbid en beelde op te rig om voor te buig. Dit was mos die gewoontemisdaad in daardie tyd.
Toe nié. Net een van dié “ellende wag vir julle”-uitsprake het dalk iets met afgodediens te doen. Die res van die ergerlikhede handel oor inhaligheid, losbandigheid, oor bedrog en selfbedrog. Kortom: Die Here sê deur sy profeet al hierdie vergrype sal hulle binnekort inhaal. Hulle moet nie onder die wanindruk verkeer dat hulle ongeskonde daarvan sal afkom nie.
Nee, hul misdadige optrede teen die armes, daardie grypsugtigheid, sal gestraf word (v 8-10). Hul oorgawe aan brassery en die gevolglike rug draai vir die Here sal sy pond vleis kom eis (v 11-12). Om te lieg en te bedrieg is ’n sonde wat jou mettertyd so sal laat vasval dat daar nêrens meer uitkomkans sal wees nie (v 18-20). O, en om jouself as die held in elke verhaal voor te doen (v 22), is ’n lawwe droom waaruit jy aanstons gaan wakker skrik – met die klem op “skrik”.
Dit is darem harde Godswoorde dié, die dreigement van ballingskap. Dit is boonop aan sy eie mense se adres gerig.
Só, lyk dit my, gebeur dit met mense wat hul ore bly toedruk as hul Here met hulle praat.
Ag, Here, ook ék hoor so swaar. Moet tog nie met my moed opgee nie.
Barend Vos