Gaan slaap maar!

Lees Psalm 36:5-10.

Selfs as hy gaan lê, dink hy kwaad uit (v 5).

Pleks dat hy slaap. Pleks dat hy rus van die kwaad wat hy bedags doen. Maar nee, sê die psalmdigter, die goddelose mens gebruik selfs sy bed as ’n plek om te beplan wát hy volgende aan wié gaan doen. Sy kwaadwilligheid sluimer of slaap nie.

Dis daarom geen wonder nie dat so ’n ellendeling se teenstanders nie eintlik ’n kans teen hom het nie – hy is dan heeltyds met sy boosheid besig. En as die potensiële teikens hulle enigsins teen hom wil verset, sal hulle sonder ophou moet keer, heeltyd op die verdediging moet wees.

Hoe uitmergelend is dit nie. Om krag te meet met ander se wraaksug. Om knaend te moet koes. Daar bly geen energie oor om goeie dade te doen nie. Lewensgenot word ’n onmoontlikheid.

En kort voor lank word jy selfs méér as ’n teiken; jy begin in dieselfde patroon verval: Bedags sluip jy behoedsaam deur die lewe, saans val jy uitgeput op jou bed neer … en bly wakker. En beraam planne: Wat kan ék doen om my teen Boosheid verweer? Waar skuil ek teen hierdie donker?

Die psalmdigter sê daar is maar een moontlikheid: “U is die bron van die lewe, deur u lig lewe ons” (v 10). Die goddeloses kan dus maar gaan slaap; God se trou bou ’n muur om sy kinders. Hy self stel perke aan boosheid.

As daardie uitvaagsels dus goeie raad wil hê – hier kom dit: As jy op jou bed gaan lê, sluit gerus jou oë. Probeer jou onstuimige, ongelukkige gemoed tot bedaring bring. Dalk, dálk hoor jy dan ’n Stem wat selfs vir jou ’n trooswoord het.

Hoe kosbaar is u trou, Here! U beskerm dié wat by U skuil.

Barend Vos