Gebed is nie ’n opsie nie

Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie? Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons. Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? (Romeine 8:31-35).

Ons kan baie skryf en praat oor die gebed wat Jesus ons geleer het. Maar, het Karl Barth gesê, as ons nie bid nie, sal ons nie besef dat ons in die teenwoordigheid van God is nie.

Jesus het hierdie gebed nie vir ons geleer sodat ons die diep teologiese betekenis agter elke woord en sin sou verstaan nie. Jesus het hierdie gebed vir ons geleer sodat ons sal bid!

Die kerkvader Cyprianus het in die derde eeu na Christus opgemerk: “As Hy wat sonder sonde was dit nodig geag het om te bid, hoeveel te meer behoort ons, wat sondaars is, te bid. As Hy aanhoudend gebid het, dwarsdeur die nag ononderbroke tot God geroep het, hoeveel te meer behoort ons aanhoudend en herhalend te bid!” As ons nie bid nie, is ons eintlik ateïste. As ons nie gereeld en aanhoudend bid nie, leef ons asof ons nie ’n Pa in die hemel het nie.

Natuurlik moet ons na die konteks van Jesus se gebed kyk om seker te maak dat ons nie die pad verlaat en in ’n vreemde omgewing beland nie. In Matteus 6 verwys Jesus na die gevaar om op ’n heidense of ’n skynheilige manier te bid. Hy verwys na drie pilare van die Joodse lewe voor God – gebed, vas en om die armes te help. Ons moet dit nooit doen om mense te beïndruk nie. Ons hooffokus is nie wat die mense sal sien nie. Ons gebed, vas en hulp aan ander is ’n baie persoonlike saak tussen God en ons.

Daar is ook ’n tweede baie belangrike punt wat Jesus spesifiek met verwysing na gebed maak. Hy sê ons moenie dink God sal ons gebed verhoor omdat ons baie woorde gebruik nie. Dis wat die heidene doen. Hulle dink hulle baie woorde sal hulle gode oorhaal om te hoor. Die beeld wat hieragter skuil, is dat die gode nie gewillige gewers is nie. Ons weet egter ons Vader weet wat ons nodig het nog voordat ons dit van Hom vra.

David Head skryf in sy boek Shout for joy dat gebed nie in die eerste plek ’n pleitrede is nie. Dit gee eerder uitdrukking aan die goedgesindheid van die Vader. God gee. God vergewe. Dit was God se idee om ons sonde te versoen. Dit was God se idee om Jesus as die Lam van God te stuur. Dit was God se idee om Jesus as ons oudste broer te stuur en ons in te trek in die familiekring van sy vaderlike liefde. Sy Seun tree vir ons in. God hoor sy Seun se gebed. Wanneer ons bid, kan ons weet die Seun van God staan in ons plek voor die Vader. Sy Vader, ons Vader, is ons goedgesind!

Dankie, Here, dat U my goedgesind en genadig is. Help my om, soos Jesus, herhalend en aanhoudend te bid, omdat U my goeie Vader is wat graag na my luister. Jammer dat ek soms so besig raak en so fokus op myself dat ek vergeet om met U te praat. Amen.