Gebed is wegkyk van jouself

As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt. Maar ’n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos ’n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. So ’n mens wat altyd aan die twyfel is en onbestendig is in al sy doen en late, moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie (Jakobus 1:5-8).

Die groot ontdekking wat ons maak, is dat gebed en veral die dinge waaroor en waarvoor ons bid, nie hoofsaaklik oor ons gaan nie. Ons gebede is ten diepste ingebed in ons verhouding met God en met ons naaste. Lynreg teenoor ons samelewing waarin ons die middelpunt van ons eie sonnestelsel geword het, vra ware gebed dat ons sal wegkyk van onsself en die grootheid van God en die wêreld rondom ons sal raaksien. Daarom kan dit nie anders nie as dat ons gebede se inhoud ’n weerspieëling word van dit waarmee ons in navolging van Jesus besig is. Dit gaan ten diepste oor die koninkryk van God en hoe elke deeltjie van die geskape werklikheid daarin ’n ruimte vind.

Hiermee is reeds baie gesê oor wat gebed is en wat gebed beslis nié is nie. Gebed is allermins ’n selfgesentreerde lysie van behoeftes en begeertes. Gebed is allermins ’n soeke na ons wil wat moet geskied. Gebed is nooit ’n manier om God se arm te draai nie. Ons bid nie om God te verander nie, maar om Hom toe te laat om ons te verander. As burgers van die koninkryk van hemel staan, sit en lê ons in gebed al soekend na God se wil en die koms van sy koninkryk. Tog wonderlik hoe die rigting van ons kommunikasie dan verander van wat ons vir God kan vra vir ons situasies na wat ons van God kan vra vir die situasie waarin Hy ons geplaas en waartoe Hy ons in sy diens geroep het.

Gebed word hiermee die uitroep na God om wysheid en insig om Hom te volg en sy werke te doen waar ons werk, waar ons ontspan, waar ons saam met vriende verkeer, maar ook waar ons in die hospitaal by die bed van ’n geliefde staan, waar ons voorbidding doen en, helaas, waar ons aansit voor ’n bord kos.

Helmut Thielicke vertel in sy boek Het gebed dat de wereld omspant van ’n kort opmerking in ’n tydskrif van jare gelede waarin die noodsaaklikheid van gebed benadruk is. Volgens die skrywer waarna Thielicke verwys, is die wêreld waarin ons woon so erg dat ’n mens kwalik anders kan as om te bid. Aangesien omstandighede gedurig verander, is voortdurende gebed die gelowige se erkenning dat ons daagliks soek na insig, wysheid en God se wil. Ons gebede moet aanpas by veranderde en veranderende omstandighede. Namate ons groei in die geloof en in ons begrip en insig behoort ons gebede dit te weerspieël.

Here, help my om weg te kyk van myself, ook in my gebede, sodat ek u grootheid kan raaksien. Gee aan my u wysheid sodat ek U en ander in my alledaagse lewe sal dien, op die voetspoor van Jesus. Amen.