Gebore om te leef

Ons vlieg na ons einde toe (Ps 90:10).

In Samuel Beckett se Waiting for Godot beeld die dramaturg op treffende, soms kras manier die gevoel van hooploosheid uit wat die sogenaamde moderne mens kenmerk. Die mens kom aan die woord en sê: “Ons wag. Ons is verveeld. Nee, moenie dit ontken nie, ons is verveeld, tot die dood toe. Dit kan nie ontken word nie … In ’n oomblik sal alles verdwyn en sal ons weer alleen wees, omring deur niks!” Hierdie mens, sê Beckett, “gee wydsbeen geboorte oor ’n graf … die lig glim ’n oomblik … dan is dit weer nag.”

Is die lewe só? Word ons maar net gebore om te sterf? Glip ons gewoon uit die baarmoeder uit … die graf in? Soms lyk dit so. Die tydjie tussen ons geboortedag en ons sterfdag is maar kort. In die lig van die ewigheid bloot ’n sekonde. “Ons lewe maar sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig, en dit is vol swaarkry en leed. Dit is gou verby, ons vlieg na ons einde toe” (Ps 91:10).

Maar iets het gebeur om die sinlose lewe en die graf onherroeplik te verander: Jesus het opgestaan! Ook Hy gaan in die graf in, ook Hy is in sekere sin gebore om te sterf, maar met dié verskil: Uit Jesus se graf kom daar ’n nuwe geboorte, kom die lewe! Die nag is verby! Die lig skyn vir ewig!

Ja, ons vlieg na ons einde toe. Ons gaan in die graf in. Maar … ook anderkant uit! Die ewige lewe in.

Daarvoor het Jesus se opstanding die weg berei.

Here, leer my om hierdie dag aan te gryp, want dit is ’n voorloper van die ewigheid. Amen.