Gee ons genoeg

Liewer min hê en die Here dien as groot rykdom en bekommernis daaroor. Liewer net ’n bietjie groente en liefde daarby as ’n vetgemaakte os en haat daarby (Spreuke 15:16-17).

Martin Luther het gesê: “Rykdom is die kleingeestigste en waardeloosste geskenk wat God aan die mens kan gee. Hoe vergelyk dit met God se Woord, met liggaamlike gawes soos skoonheid en gesondheid; of met geskenke van die gees soos begrip, vaardigheid en wysheid? Tog swoeg die mens om rykdom dag en nag, en neem nooit rus nie.”

Die gebed van die Here praat oor ’n nuwe orde. Dit begin waar ons sê: “Ons Vader …” Dit skep ’n familie met bepaalde waardes. Hierdie familie leef in afhanklikheid van hierdie Vader, vir vandag en môre. Ons is nie in beheer nie. Ons het God en mekaar nodig. Dis ’n mite om te dink ons kan ’n lewe sonder angs, sonder vrees en in totale onafhanklikheid leef. Die sogenaamde “moderne” wêreld is ’n hooplose wêreld, gevul met pyn, onmin en tragedies.

Helmut Thielicke verwys na die boek van Walter Flex, Reisiger tussen twee wêrelde, waarin skryf hy dat ons eintlik in gebed net om krag moet bid. Ons reik uit na die hand van God, nie na die geld in sy hand nie. Baie mense het die geld en die brood, maar nie die hand van God nie. Baie mense sien die brood en die geld as ’n doel op sigself. Mense wat deel van God se familie is, wat God “ons Vader” noem, kan nie só leef nie. Die hand van God is die bron van ons lewe. Die hand van God gee sin aan ons brood en ons geld. Dis alles Syne.

Daarom vra ons nie meer as dit wat ons vir vandag nodig het nie. God meet die porsie af. Dit is genoeg. So baie van ons kla onnodig oor ons lewensgehalte, maar die meeste van ons het ’n dak oor ons kop, ’n kombers om onder te slaap en elke dag iets om te eet. En tog bekommer ons ons so dikwels oor môre.

Daarteenoor is daar so baie mense in ons land wat net genoeg vir vandag het. Of nie eens genoeg vir vandag nie. Miskien is jy een van hulle. Of miskien is jy bang jy word een van hulle omdat jy jou werk gaan verloor.

Hans Walter Wolff, ’n Duitse teoloog, het gesê: “Liewer met God in my krisis as sonder Hom in my voorspoed.” Om God se teenwoordigheid te beleef wanneer jy nie voorspoed, geluk en besittings het nie, dít is ware geluk. As ons maar net kan leer om tevrede wees met wat God vandag vir ons gee, en môre in sy hande oor te gee.

Hemelse Vader, gee ons vandag wat ons vir vandag nodig het. Môre laat ek aan U oor! Amen.