Gehoorsaam ten spyte van die gevolge

Teen die tyd van die aandoffer het die profeet Elia vorentoe gekom en gebid: “Here, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit tog vandag bekend word dat U God is in Israel, en dat ek u dienaar is wat op u bevel al hierdie dinge doen. Antwoord my, Here, antwoord my tog dat hierdie volk kan besef dat U, Here, God is, en dat dit U is wat hulle harte weer tot U bekeer.” Toe kom daar vuur van die Here af en dit verbrand die offer, die hout, die klippe en die grond. Dit het selfs die water in die sloot opgelek. Toe die hele volk dit sien, het hulle op hulle knieë geval en uitgeroep: “Die Here is God! Die Here is God!” … Agab het vir Isebel vertel wat Elia alles gedoen het, ook dat hy al die profete om die lewe gebring het. Toe het Isebel ’n boodskapper na Elia toe gestuur om vir hom te sê: “Mag die gode my om die lewe bring as ek nie môre teen hierdie tyd met jou gemaak het soos jy met die profete nie.” Elia het bang geword en ter wille van sy lewe gevlug (1 Konings 18:36-39; 19:1-2).

Die verhaal van Elia en die profete van Baäl is een wat jou hart wil laat stilstaan. Eerstens lyk dit of Elia iets onsinnig doen – om ’n “kompetisie” tussen Baäl en God te reël. Dit was egter geen risiko nie. Wanneer ons iets ter wille van die eer van die Naam van die Here aanpak, is die Here self aan die werk. Daarom kan ons vreesloos in sy diens staan.

Tweedens sien ons dat gehoorsaamheid aan die Here soms buitengewone gevolge het. Elia se ywer vir die Here bring nie net oorwinning oor die profete van Baäl nie, maar lei ook ’n hele volk, wat tot nou toe aan Baäl getrou wat, om te erken dat die Here die enigste God is (18:39).

Maar wat gebeur dan? Elia moet vir sy lewe vlug.

Alle verhale van gehoorsaamheid aan die Here het nie altyd ’n positiewe uitkoms op kort termyn nie. Jesus was volgens mense se mening nie “suksesvol” nie. Mense het Hom doodgemaak. Hulle het nie geskreeu dat die Here God is nie, maar: “Kruisig hom!” Tog is die uiteindelike uitkoms van Jesus se gehoorsaamheid ons wonderbaarlike verlossing.

In sy boek The Tyranny of the Urgent skryf Charles E Hummel dat Jesus nie alle dringende sake in Palestina opgelos het nie. Hy het ook nie alles gedoen wat Hy graag sou wou gedoen het nie. Wat Hy wel gedoen het, was om die werk wat God aan Hom gegee het klaar te maak.

Dit is die geheim wat ons moet ontdek. Hy skryf: “Niks vervang die wete dat ons op hierdie dag, op hierdie uur, op hierdie plek die wil van die Vader gedoen het nie. Slegs dan kan ons met kalmte aan die ander onvoltooide take dink en dit aan God oorlaat.”

Wat beteken dit alles? Daar is sekere dinge wat óns wil is. Ons wil graag dit bereik, daardie probleem oplos of hieraan ons aandag gee. Intussen raak ons besig met dinge wat God self nie op ons tafel geplaas het nie. Ons moet daarom gedurig vra wat God se agenda vir vandag vir ons is. Wat wil God deur ons doen?

Dit is wat die psalmdigter in Psalm 25:4-5 gevra het. Leer my u wil, Here! Dit is wat Jesus gedoen het – God se wil. Al het dit op sy lyding en dood uitgeloop, het Jesus gehoorsaam gebly.

Vir Francois de Sales is die suiwerheid van geloof wanneer ons op net een begeerte gefokus is: om die wil van God te ken en te doen. As dít ons lewensfokus is, verwelkom ons enigiets wat hierdie doel kan dien: voorspoed of teëspoed. Hy skryf in die 16e eeu: “As ek net skoon water wil hê, maak dit tog nie saak of dit in ’n kruik van goud of ’n glas na my toe gebring word nie. Wat maak dit saak of die wil van God in swaarkry of in my vertroosting aan my gebring word? Al wat ek begeer en soek, is die wil van God.”

Here, help my om gehoorsaam te wees aan U, ongeag of die onmiddellike gevolge gemaklik of ongemaklik is. Niks vervang die wete dat ek vandag, op hierdie plek en op hierdie oomblik, besig is om u wil te doen nie. U bring vir my vreugde en vervulling. Amen.