Geloofsheld

Lees Romeine 4:13-25.

Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo … (v 18).

Prysenswaardig, Abraham se geloof. Volgens Paulus is dit die rede vir die vryspraak wat dié ou vader-van-vele van God ontvang het.

Dit is wonderlik om weer eens te hoor, hard en duidelik, dat die onderhouding van Moses se wette nie jou saligheid bewerkstellig nie. Dat “geloof ” en “genade” (v 16) in een asem genoem word. Dat die Godsbelofte aan die gelowige Abraham ook vir latere ge­slagte gelowiges sou geld.

Hoe allertroostend om te weet dat daar hoop anderkant hoop is. Dat dit dalk juis hierdie volgehoue hoop-ten-spyte-van is wat “geloof ” genoem word. ’n Geloof wat ons vryspreek van al ons oortredings.

Ook maar goed so. Vir ons, en vir Abraham. Want sy persoon­like geloofslewe was nie onbesproke nie. Inteendeel. Ons weet mos presies hoe effens óns geloof is, hoe broos, hoe maklik dit onder die geringste druk padgee.

Abraham sal ons boonop kan vertel van Hagar, sy vrou se slavin. Hoe hy, toe God te lank na sy sin talm, sake in eie hande geneem het. En voorspelbaar genoeg toe nie te goed gevaar het nie.

Nee, ons is nie juis kampioengelowiges nie. Abraham was straks ook nie een nie. Tog word hy deur die Bybelskrywers as ’n ge­loofsvoorbeeld genoem. Dit help ons, al leer die Bybelverhale ons dat hy ook ’n voorbeeld van feilbaarheid is. Want nou weet ons immers dat God se genade groter as ons geloof is. Dat sy verbyste­rende volharding met ons alle verstand – en ons én Abraham se wankelrige geloof – te bowe gaan.

Ek glo, Here. Kom tog my kleingeloof te hulp!

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: