Lees Esegiël 2:8–3:11.
“… sê vir hulle wat Ek, die Here God, sê, of hulle luister of nie” (3:11).
Almal word nie op dieselfde manier geroep nie, nè? Bybellesers kan hulle aan ’n verskeidenheid uiteenlopende roepingsverhale verwonder, en hulle selfs daarmee vereenselwig. Dalk iets sê soos: Die Here het my ook só geroep!
Esegiël se mond word vol woorde geprop. Nie lekker woorde nie; ’n boekrol vol “klaagliedere, treurliedere en smartroepe” (Eseg 2:10) wat hy moet eet. Maar, sê die profeet, vir hom was dit soet soos heuning.
Toe hy klaar geëet het, kom die ontnugtering: Hy moet dit gaan oordra aan mense wat nie na hom sal luister nie. Nee, dit is nie vreemdes nie en hulle praat nie ’n ander taal nie; dit is sy eie mense, “koppig en onversetlik” (Eseg 3:7).
Moet jou egter nie hieroor bekommer nie, sê die Here aan sy profeet. Ek sal jou net so hardkoppig soos hulle maak. Moet dus nie vir hulle bang wees nie. Gaan doen wat jy moet doen: Luister noukeurig na wat Ek sê, en dan gaan dra jy dit net so noukeurig aan hulle oor.
Maar nee, ek kan nie waarborg dat hulle sal luister nie. Dit is egter nie iets waaroor jy jou hoef moeg te maak nie, Esegiël. Jy word geroep om te sê wat Ek sê. Dit is al. Of hulle luister na wat Ek deur jou sê, is vir hul eie rekening.
Só sê die Here aan sy profeet. Uiteindelik is dit alle Godgeroepenes in alle beroepsfere se diepe troos: Jou gehoorsaamheid aan Hom wat jou geroep het, weeg veel swaarder as ander se reaksie daarop. Dit is uiteindelik húl saak wat hulle self met die Here sal moet uitklaar. Doen jy net wat jy moet.
Praat hard met my, Here! En hou my gehoorsaam aan u opdragte, al wil niemand anders luister nie.
Barend Vos